SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Sergeal word nou ware Cheetah
Sergeal Petersen (regs) by die onlangse Junior Wêreldtoernooi in Nieu-Seeland. Foto: Getty Images

BLOEMFONTEIN. – Sergeal Petersen se kontrak is onderteken.

Die 19-jarige vleuel van die Jong Bokkies sluit hom in November amptelik by die Vrystaatse Cheetahs aan en hy sal tot einde 2017 hier rugby speel.

Hy sal die Oostelike Provinsie-Kings wel nog in vanjaar se Curriebeker-reeks verteenwoordig, maar nie soos aanvanklik verwag is vir volgende jaar se Super-reeks na die Baai terugkeer nie.

“Toe ons oor sy toekoms gepraat het, het hy gevra om net met die Cheetahs te onderhandel,” sê Mede8 Sports, die ­agentskap wat hom verteenwoordig, in ’n verklaring.

“Die Cheetahs se spelpatroon pas hom, hy wil Super-rugby speel en dit was vir ons belangrik dat hy sy momentum behou ná goeie vertonings in die Junior Wêreldtoernooi in Nieu-Seeland.”

Vroeër die week het die Springbok-vleuel Cornal Hendricks sy kontrak by die Cheetahs tot einde 2015 verleng.

Clayton Blommetjies, veelsydige agterspeler van die Blou Bulle, meld hom ook Maandag by die Vrystaters se Curriebeker-groep aan.

Nog ’n aanwins, die gewese Blitsbok en jare lange staatmaker van die WP Joe Pietersen, sluit hom slegs vir 2015 se Super-reeks as Johan Goosen se plaasvervanger as losskakel by die Cheetahs aan.

Die moontlikheid bestaan voorts dat die Cheetahs die veelsydige agterspeler van die Pumas, Coenie van Wyk, kan kontrakteer. Hy het vanjaar vir die Leeus Super-rugby gespeel en as hy besluit om ’n Cheetah te word, sal hy ’n goeie kopie wees.

Die Cheetahs het ná hul Super-verpligtinge verskeie agterspelers verloor wat dit moontlik gemaak het om ’n opwindende aanvaller soos Petersen hierheen te lok.

Onder die agterspelers wie se salarisse nie langer deur die Cheetahs betaal word nie, is die heelagter Hennie Daniller (Zebre), Goosen (Racing Metro), die senter Piet Lindeque (boer) en die veelsydige agterspeler Riaan Smit (Oyonnax).

Die senter Johann Sadie is ook nie vir die Curriebeker-reeks beskikbaar nie, maar sal wel vir 2015 se Super-reeks deur die Cheetahs oorweeg kan word.

Hy gaan nou in die Curriebeker-tyd vir die Japanse klubspan Docomo Red Hurricanes speel.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.