Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Shimlas bou lank aan Varsitybeker-sege
Franco Smith

Franco Smith was die laaste stukkie in die Shimlas-legkaart.

Só het Marius van Rensburg, voorsitter van die Universiteit van die Vrystaat (UV) se rugbyklub, gesê nadat die Shimlas Maandag ’n eerste keer as Varsitybeker-kampioen gekroon is.

Volgens Van Rensburg is daar lank op Shimlapark gesweet en gebou aan wat in die Varsitybeker-eindstryd teen die Pukke vervolmaak is.

Hy meen Smith, wat verlede jaar as Shimlas-afrigter aangestel is, was “die regte ou op die regte tyd” om die rugbyspan tot glorie te help. Die tuisspan het sy aarstvyand, die Pukke, met 63-33 in die eindstryd vermorsel.

Van Rensburg is reeds sedert 1983, toe hy nog regte aan die Kovsies gestudeer het, by die UV-rugbyklub betrokke en stem saam die Shimlas se Varsitybeker-triomf is een van die hoogtepunte.

“Maar ’n ou dink alles gebeur in ’n jaar se tyd,” het hy gesê.

“Hierdie goed kom eintlik al baie lank wat jy aan strukture werk, om oud-Shimlas weer meer betrokke te maak en die groot ding is om respek terug te bring in vele opsette in die klub.”

Van Rensburg het destyds as student saam met Pieter Möller, Bennie Roos en Polla Steenkamp vir oom Tat Botha as kroegmanne by Shimlapark begin werk.

Later het hy spanbestuurder van die Kovsies se o.20-span geword toe bekendes soos Gur-thrö Steenkamp en Boela du Plooy daar uitgedraf het. Hy het in 2006 die klub se voorsitter geword.

Hy meen daar was baie taai tye en daar is die afgelope paar jaar hard deur verskeie afrigters, administrateurs en spelers gewerk.

“Dit was moeilik. Ons het vanjaar ver gewen in die eindstryd, maar het in ses of sewe jaar van Varsitybeker-rugby ook baie slae gekry.

“Dit is asof dit ’n legkaart is en Franco Smith die laaste stukkie was.”

Van Rensburg is dankbaar dat Smith nou oor die Shimlas se pad gekom het.

Daar is vir hom een ding wat uitstaan van die Shimlas se reeks: “Die hele veldtog van die Varsitybeker van 2015 is gebou om een woord en dit is respek.”

Hy meen dit is belangrik dat die spelers respek moet hê vir diegene wat voor hulle diep spore by die klub getrap het en daarmee het die Shimlas beslis vanjaar geslaag.

“Daar het skielik net iets by die spelers begin posvat van hier is ouens voor ons wat hierdie ding gedoen het,” het hy gesê.

“Hulle kyk na die foto’s in die Shimlakamer (van vorige spelers) en besef hulle moet respek hê vir dit wat daardie manne gedoen het.

“Die hele ding het net begin sneeubal. En dit is vreemd hoe dinge werk. Wanneer jy begin wen, dan kry jy ook makliker die oudspelers terug.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.