Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Sikhumbuzo Notshe bly in Kaap
Sikhumbuzo Notshe het die Nuwelandse skare in Mei op hul voete gehad met sy drie teen die Cheetahs. Foto: Gallo Images

Die briljante jong losvoorspeler Sikhumbuzo Notshe het besluit om in die Moederstad wortel te skiet.

Notshe, wat vir die Westelike Provinsie in die Vodacombeker-reeks uitgeblink en onlangs ook vir die Stormers ’n pragdrie in hul Superrugby-wedstryd teen die Cheetahs op Nuweland gedruk het, het sy kontrak tot einde 2017 verleng.

Daar was elders in Suid-Afrika groot belangstelling in sy dienste, maar hy het die vooruitsig van gereelde speelkans vir die WP en die Stormers gegewe die losvoorspeler-skuiwe wat op die horison wink.

Die nuus van Duane Vermeulen se verwagte skuif na Toulon in Frankryk behoort in die nabye toekoms bevestig te word, terwyl Michael Rhodes ná die Super-reeks vir Saracens in Engeland gaan speel.

Schalk Burger sal ook nie vir die WP in die Curriebeker-reeks beskikbaar wees nie.

Dít beteken dat die verantwoordelikheid om die WP se Curriebeker-fakkel te dra waarskynlik op ’n opwindende lostrio van Notshe, Nizaam Carr en Siya Kolisi se skouers gaan rus.

Lees ook:

’n Hartseer dag​ vir Bismarck du Plessis

WP vry na dié Bo​k-trio

Jonny Wilkins​on slaan Bokke hoog aan

Jong Bokke vee A​ussies uit die pad

Bulle weet bin​ne 2 weke wie ry of bly

“Sikhumbuzo is ’n gesogte speler en etlike ander unies was bereid om groot geld vir sy dienste te betaal. Hy het egter ’n loopbaangerigte besluit geneem deur by die WP aan te bly,” het Notshe se agent, Hilton Houghton, gister aan Die Burger gesê.

“Die feit dat die Stormers bo-aan die Suid-Afrikaanse Super-afdeling geëindig het, tesame met die WP se status as Curriebeker-kampioen, wys duidelik dat hierdie die toonaangewende unie in Suid-Afrika is.”

Houghton het bygevoeg dat Notshe, wat ook tuis is as steelkantflank, hom graag op agtsteman wil toespits. Carr is egter vir eers volgende in die ry ná Vermeulen

“Daar was nooit regtig twyfel dat Sikhumbuzo in die WP sou bly nie.

“Die feit dat die Stormers- en WP-spanne toenemend die breë Suid-Afrikaanse rugbygemeenskap weerspieël, het óók ’n rol in dié besluit gespeel,” het Houghton gesê.

“Hier is nie sprake van kwotas nie en Sikhumbuzo sal ten volle volgens verdienste vir spanne oorweeg word.

“Die vooruitsig is ook daar dat hy gereelde speelkans sal kry indien hy só toegewyd soos nou bly.”

Houghton het ook Gert Smal se werk as direkteur van rugby geprys.

“Ek dink Gert verrig uitstekende werk en dit was maklik vir my om Sikhumbuzo aan te raai om in die Kaap wortel te skiet.”

 Intussen gaan Notshe na verwagting die Stormers se nr. 6-trui dra in Saterdag se wedstryd teen die Haaie in Durban. Rhodes is glo die ander flank met die agtsteman Carr wat straks kaptein sal wees.

Staatmakers soos Burger, die slotte Eben Etzebeth en Manuel Carizza, die senters Juan de Jongh en Damian de Allende, die heelagter Cheslin Kolbe, die vleuel Dillyn Leyds, die skrumskakel Nic Groom, die stutte Frans Malherbe en Steven Kitshoff en die haker Bongi Mbonambi is glo nie in die 23-tal nie.

Vermeulen (nek), die haker Scarra Ntubeni (kuit) en die losskakel Demetri Catrakilis (harsingskudding) kon vanweë beserings nie oorweeg word nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.