SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Soet en suur vir Griekwas
Martin Bezuidenhout van Griekwas druk Saterdag een van Griekwas se ses drieë teen die SWD-Arende in die reeks om vir die Curriebeker se Premierliga te kwalifiseer. Griekwas het met 41-21 in Kimberley gewen. Foto: Gallo Images

Bloemfontein. – Daar was Saterdag na afloop van hul Curriebeker-kwalifiseerder ’n skeutjie goeie én slegte nuus vir Griekwas met die oog op die toekoms.

Die goeie nuus is dat die Poubloues ’n bonuspunt-sege van 41-21 Saterdag in Kimberley oor die SWD-Arende hul deelname aan die Premierliga van vanjaar se Curriebeker-reeks bevestig het.

Die slegte is egter dat die Cheetahs-losskakel Francois Brummer van volgende jaar in die Pumas-trui gaan uitdraf en dus vir die Poubloues en ook die sentrale streek verlore is.

Ná weke van bespiegelinge het Hawies Fourie, die Griekwas-afrigter, bevestig dat dié losskakel ’n kontrak met die Pumas gesluit het.

Brummer, wat gereeld by die Cheetahs vir die Superrugby-reeks betrek is, sal nog vir die Curriebeker-reeks by Griekwas aanbly, maar aan die einde van die seisoen na Nelspruit verhuis.

Die 26-jarige Brummer het Kimberley in 2012 sy tuiste gemaak en sy deelname aan vanjaar se Curriebeker-reeks sal dus sy vierde, maar ook laaste, seisoen in die Poublou-trui wees.

“Francois het by die Pumas geteken. Dit is ’n loopbaanbesluit, want hy soek iets nuut en vars.

“Hy is ook van mening dat hy dalk daar makliker by die Leeus sal Superrugby-speelkans kry,” het Fourie Sondag gesê.

Marnitz Boshoff, ’n oud-losskakel van Griekwas, het hom twee seisoene gelede by die Leeus aangesluit en daar Springbok geword. Dit wys dat daar skuil moontlik wysheid agter Brummer se besluit.

“Ons gaan Francois werklik mis en sal nou na nog ’n spesialis-losskakel moet gaan soek met die oog op volgende jaar,” het Fourie gesê.

Met Brummer wat tans las het van ’n seer kuitspier, het Riaan Viljoen die afgelope ruk – nes toe hy in Japan gespeel het – die losskakel-rol vertolk.

Viljoen se veelsydigheid beteken dat Fourie-hulle eerder na ’n spesialis-losskakel moet gaan soek. Hy kan heelagter en vleuel ook speel.

Daar is ander staatmakers soos Clinton Swart, maar die afrigtingskorps verkies hom op binnesenter.

 Teen die Arende het dinge nie altyd lekker vlot vir die tuisspan verloop nie.

Trouens, hul agterstand van 14-12 met rustyd het ’n ou vir ’n ruk laat dink die Luiperds, wat Grens Saterdag in Oos-Londen met 33-8 getroef het, is in die binnebaan vir Curriebeker-deelname.

Die Poubloues het laat in die tweede helfte ’n tweede asem gekry en uiteindelik ses drieë vir ’n oorwinning gaan druk.

 Puntemakers:

Griekwas 41 (12): Drieë: Carel Greeff (2), Michael van der Spuy, Ntabeni Dukisa, AJ Coertzen, Martin Bezuidenhout. Doelskoppe: Gouws Prinsloo (4). Strafdoel: Prinsloo.

SWD-Arende 21 (14): Drieë: Gerrit Smith, Luzuko Vulindlu. Doelskop: Gerrit Smith. Strafdoele: Smith (3).

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.