Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Stefan Watermeyer verruil Pumas vir Kings, Leeus gaps JW Bell
Stefan Watermeyer gaan hom vir die Superrugby-seisoen by die Kings aansluit. Foto: Gallo Images

Stefan Watermeyer, die Pumas se kaptein, gaan probeer om meer speelkans in die Superrugby-reeks te kry nadat hy 'n kontrak met die Kings onderteken het.

Dié 27-jarige binnesenter sluit hom na afloop van vanjaar se Curriebeker-reeks by Suid-Afrika se sesde verteenwoordiger in aanstaande jaar se nuwe Super-reeks aan en verskaf broodnodige ervaring.

Watermeyer was verlede jaar 'n gereelde lid van die Leeus se Superrugbyspan, maar het in 2015 gesukkel om weer 'n plek in Johan Ackermann se groep los te slaan, veral ná hy in die voorseisoen 'n kniebesering opgedoen het.

Intussen het die Leeus se keuses op senter aansienlik gegroei met jongelinge soos Harold Vorster en Rohan Janse van Rensburg wat hulle stempel afgedruk het saam met meer gevestigde staatmakers soos die Springbok Lionel Mapoe en Howard Mnisi.

Watermeyer sou beslis sy kans moes afwag.

Intussen het die Leeus 'n derde Pumas-staatmaker vir 2016 gegaps.

Die betroubare heelagter JW Bell sal sy loopbaan saam met twee van sy spanmaats, die skrumskakel Faf de Klerk en die stut Corné Fourie, by Ellispark voortsit.

De Klerk en Fourie se handtekeninge is reeds vroeër vanjaar bevestig.

Bell se aanvallende vermoëns in sy eie halfgebied is beslis 'n vaardigheid wat aantreklik vir 'n Leeus-span, wat met 'n aanvallende ingesteldheid speel, sal wees.

Twee ander Laevelders, die losvoorspelers Jason-Colin Fraser en Uzair Cassiem, verruil Mbombela (Nelspruit) vir Kimberley om Superrugby te speel.

Na verneem word skuif dié paar Griekwas toe met die oog op 'n plek in Franco Smith se Cheetahs-groep.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.