Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
FRANSE KLUB LOK JONG STUT
Steven Kitshoff ook op pad na Frankryk
Steven Kitshoff

Daar praat die Euro vir nóg ’n jong Suid-Afrikaner té hard.

Steven Kitshoff, een van Suid-Afrikaanse-rugby se voorste jongelinge, sal hom aan die einde van Oktober by die dosyne ander SA trekvoëls in Frankryk aansluit, ná hy besluit het om ’n kontrak met die Top14-rugbyspan Bordeaux-Bègles te teken.

Kitshoff se agent, Hilton Houghton, het by navraag bevestig die 22-jarige loskopstut sal sy tasse ná die Curriebeker-reeks pak.

Sy besluit is vir die Stormers ’n yslike terugslag, maar Houghton meen die skuif kan vir albei partye voordelig wees.

“Steven gaan vir twee jaar daar speel en dis ’n geleentheid om onder Raphaël Ibanez se afrigting te werk.

“As hy terugkeer, sal hy ’n beter speler wees. Hy sal in ’n nuwe omgewing en kultuur ook as mens groei,” het Houghton gesê.

“Sy besluit is geensins op enige ongelukkigheid met die WP gegrond nie. Inteendeel, hulle het baie goed vir hom gesorg. Hy gaan beslis nie Frankryk toe vir die geld nie.”

Terwyl Kitshoff tans agter Tendai Mtawarira, Gurthrö Steenkamp en Trevor Nyakane in Suid-Afrika se loskoptou staan, word daar verwag dat hy van 2016 af ’n rol op nasionale vlak kan hê.

Buitendien behoort Kitshoff se vertrek hom nie uit die Groen-en- Goud te hou as hy beïndruk in Europa nie. Suid-Afrika kies mildelik spelers van oorsee.

 Kitshoff se skuif was nie die enigste een die afgelope naweek nie. Die Bulle het vroeër bevestig Jacques du Plessis en Flip van der Merwe sal ook hul loopbane in Frankryk voortsit.

Van der Merwe sal ná die Curriebeker-reeks vir Clermont gaan speel, en Du Plessis gaan Montpellier toe.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.