Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
12 spanne was Super – John Dobson

Die probleem met Superrugby lê nie by Suid-Afrika nie, maar by die afwyking van ’n kompetisiestruktuur wat dit tussen 1996 tot 2010 uiters gewild gemaak het.

John Dobson, die Stormers se afrigter, dink die Superreeks was ’n wenner tussen 1996 en 2010. Foto: Foto24

Dit is die mening van John Dobson, die Stormers se afrigter, toe hy Maandag uitgevra is oor die toekoms van dié toernooi.

In Nieu-Seeland en Australië word daar toenemend gevoel dat hulle die pad sonder Suid-Afrika en Argentinië moet stap. Dié mening is selfs al deur die All Blacks en Wallabies se onderskeie kapteins – Sam Cane en Michael Hooper – gelug.

Maar stadig oor die klippe, sê Dobson, wat ’n bietjie perspektief gebied het.

“In die beginjare was dit ’n toernooi wat uit ses spanne uit Nieu-Seeland en Australië bestaan het. Dit het baie beter geraak toe dit uitgebrei is om Suid-Afrikaanse spanne in te sluit. Transvaal het in 1993 die eerste Super10-reeks gewen en dit was ’n goeie toernooi,” sê hy.

“Dit het sonder twyfel oor die laaste paar jaar agteruitgegaan, maar as jy terugdink na ’n era wat lank geduur het – van die middel 1990’s tot 2010 – was dit ’n baie goeie produk.”

Ek dink dit sou voortydig wees om alles net weg te smyt.
John Dobson

Dobson sê hy dink almal sal saamstem dat die Super12-reeks met die boonste vier spanne wat in die halfeindronde speel en die eindstryd daarna, die beste was.

“Dié toernooi was teen die einde van Mei afgehandel sonder dat daar ’n pouse vir die Junie-toetse was. Die Springbokke was dan later vir ’n paar wedstryde in die Curriebeker-reeks beskikbaar.”

Maar hoe het dinge sedertdien nie verander nie.

Politieke druk om die Oos-Kaap in te lyf, Australië wat gedruk het vir nóg twee spanne, die insluiting van die Japannese Sunwolves en bisarre toernooiformate het ’n goeie produk ondermyn.

“Ek het ’n nare gevoel dat die geraas ’n negatiewe impak kan hê, maar soos ek verstaan, is die uitsaaiooreenkoms reeds afgehandel,” sê Dobson.

“Ek dink dit sou voortydig wees om alles net weg te smyt. As ons iets kan kry soos wat ons eens op ’n tyd gehad het, sal daar baie meriete wees.”

Met die aanvang van beroepsrugby in 1996, was daar 12 spanne voordat die toernooi in 2006 uitgebrei is om vir Suid-Afrika en Australië albei nog ’n span te gee.

’n Alewige probleem met die Super12-reeks was die ongemaklike huwelik tussen die Goue Leeus en Cheetahs, wat ondanks al die ontevredenheid met mekaar in 2000 en 2001 as die Cats die halfeindronde gehaal het.

Van aanstaande jaar is daar weer ’n sinvolle formaat met al 14 spanne wat een ligawedstryd teen mekaar speel, hoewel rugbybase weer gekrap het waar dit nie jeuk nie vir die uitspeelrondes. Eerder as om net op twee halfeindstryde te besluit, sal die spanne wat van derde tot sesde op die puntelys geëindig het, onder mekaar uitspeel vir plekke in die halfeindronde. Dit terwyl dié wat eerste en twee eindig, ’n loslootjie sal hê.

Of dit lewe in die reeks gaan blaas en monde Doer Onder gaan snoer, sal nog gesien moet word, maar dit klink darem soos ’n stap in die rigting van die goeie ou dae . . . soos Dobson dit uitgespel het.

Meer oor:  John Dobson  |  Stormers  |  Superrugby  |  Sanzaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.