Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
2 babas vir die man met ’n Bul-plan

Die Bulle se nuwe baas, Edgar Rathbone, het in die tyd van inperking twee babas om na om te sien.

Edgar Rathbone en sy vrou, Pauline, die afgelope week saam met hul twee weke oue seuntjie, Edgar jr., in hul huis in Midrand. Die egpaar het ook ’n dogter, Emily-Anne. Foto: Christiaan Kotze/C&C Photographic Agency

Edgar jr. is maar twee weke oud nadat hy in die tyd van inperking weens die koronavirus-pandemie gebore is.

Die ander “baba” wat in Suid-Afrika se inperking deur die rugby-ooievaar by Rathbone afgelewer is, is Blou Bul-rugby.

En dis ’n ope vraag watter van die twee babas Rathbone die meeste slaap gaan kos.

Die 33-jarige Rathbone is pas aangestel as die Blou Bulle se nuwe uitvoerende hoof in die plek van Alfons Meyer, wat besluit het om te bedank.

“Dit is ’n massiewe voorreg om die posisie te vul. Dit was nie ’n maklike besluit om die Leeus te los nie, veral nie nou tydens die koronavirus-pandemie nie, want dis ’n tyd waarin jy na jou mense wil omsien.

“Maar dit is ’n besluit wat nou geneem is. En wanneer ek in Junie by my kantoor by Loftus instap, begin die uitdaging vir my,” sê hy.

“Die rugby-aspek is natuurlik baie belangrik, maar my eerste taak sal wees om te verseker ons kyk na die werknemers. Ons moet eers seker maak almal is reg, en dan kan ons aan die taak begin werk.”

Ons gaan dinge probeer. 50% van hulle kan misluk, maar die ander 50% gaan wonderlik wees

Hy weet daar is ’n groot taak wat voorlê, maar glo wel daar is genoeg ondersteuning om Loftus weer vol te maak en die passie vir rugby in Pretoria weer hoog te laat brand.

“Dit is nie die eerste keer dat ek met ’n direksie moet saamwerk nie. Die direksie by die Leeus is ’n sterk span mense, en ek het goed saam met hulle gewerk.

“Ek ken ook die rugbypolitiek goed, maar die direksie beskik oor baie ondervinding wat ’n mens moet aanwend om jou taak te vergemaklik.

“Daar is geen waarborge in die lewe nie. Maar ek kan belowe ons gaan dinge probeer. Ons kan met 50% van hulle misluk, maar die ander 50% gaan wonderlik wees.

“Daar is massiewe uitdagings tans en baie van dit gaan hand aan hand met wat aangaan in die ekonomie. Uiteindelik gaan dit oor die toeskouers se ervaring by die veld meer as oor die rugby.

“Die Bulle se voordeel is dat hulle ’n universiteit (Tuks) langsaan Loftus Versfeld het. As jy kyk wat ’n span soos die Highlanders al met hul studente in Dunedin gedoen het, is dit wel ’n voordeel wat nie ten volle deur die Bulle benut word nie.

“Die verhouding tussen die Bulle en Mamelodi Sundowns is een wat oor die volgende paar jaar al hoe nouer gaan word en ons moet kyk hoe ons albei se ondersteunersbasis nader aan mekaar kan bring.”

Met vyf afrigters in vyf jaar, en Rathbone wat die derde uitvoerende hoof in dieselfde tydperk is, is stabiliteit nie ’n kenmerk van die rugbyopset by Loftus nie.

Maar dit is juis wat die Bulle, volgens hom, nou nodig het.

Alan Zondagh, gewese direkteur van rugby.
Pote Human, gewese Super-afrigter van die Bulle.
Alfons Meyer, op pad uit as uitvoerende hoof.

Nadat die Bulle se direkteur van rugby, Alan Zondagh, die afrigter, Pote Human, en die uitvoerende hoof, Meyer, almal in die afgelope drie maande weg is, is bestendigheid ’n noodsaaklikheid.

“Ons het op Ellispark gesien hoe belangrik stabiliteit is toe ons Johan Ackermann in 2013 by die Leeus aangestel het. In ’n stabiele omgewing kon ons teen 2017 sukses behaal. Dis die vrugte wat jy dan pluk.

“Stabiliteit is ’n sleutelwoord in rugby. En ek is nie hier vir die kort termyn nie, ek is hier om te bly en ek wil die sukses ook meeleef.”

Een van sy grootste uitdagings, veral gegewe sy jeugdige ouderdom, sal wees om te sorg dat die sterk persoonlikheid van die Bulle se nuwe direkteur van rugby, Jake White, hom nie oordonder nie. Maar dit skrik hom nie af nie.

“Ek het Jake nog nie ontmoet nie, maar ons sal binnekort blad skud. Hy is ’n goeie afrigter met ’n ongelooflike rekord. Hy ken sy rugby.

As hulle weer in die Bulle kan glo, is ons op die regte pad.

“Dit sou dom van enigeen wees om sulke ondervinding nie aan te wend tot die sukses van die unie nie.

“Jake se werk is om die span af te rig, en om ’n span te bou om trofeë te wen.

“My werk is om die kantoor te laat werk sodat daar sinergie is tussen die span, die maatskappy en die unie. Ek dink Jake bring groot opwinding en ons het dit nodig.

“Ons moet mense en die sakewêreld in Pretoria kry om weer in die Bulle te glo.

“Dit geld ook die voormalige spelers. Die Bulle het ’n ongelooflike gros oudspelers wat helde is.

“As hulle weer in die Bulle kan glo, is ons op die regte pad.”

Rathbone het al ’n vinnige pad opwaarts in rugby geloop, van sy dae op Somerset-Oos tot Maties waar hy as skrumskakel gespeel het.

Hy het hom in 2013 by die Leeus aangesluit en is in 2015 as Ellispark se kommersiële hoof aangestel.

In 2016 is hy as besturende direkteur van die Ellispark-stadion – wat die stadion en die kommersiële regte bestuur – aangewys.

“Ek het op ’n jong ouderdom in rugby begin,” lag hy. “En my hele lewe is maar in sport. My wortels is in die Oos-Kaap, waarna ek Stellenbosch toe is as student.”

Rathbone is ’n geoktrooieerde rekenmeester en het ná sy studie in Johannesburg begin werk. Hy sê dit was destyds maar die tweede keer in sy lewe dat hy in ’n stad was.

“Ek het goeie mense ontmoet en in 2013 ’n werk by die Leeus gekry. Dit was die jaar toe hulle uit Superrugby is, en ek het daarvandaan af my pad oopgewerk.”

Rathbone kan dalk jonk wees, maar hy glo hy het genoeg ondersteuning om ’n sukses van sy nuwe uitdaging te maak.

“Ek het goeie gesprekke met die direksie gehad voordat ek die pos aanvaar het.

“Hulle het werklik baie bekwame mense daar, mense op wie jy kan reken.

“Ek kan jonk wees, maar ek het die finansiële kwalifikasies en die ondervinding van rugby.”

Meer oor:  Edgar Rathbone  |  Bulle  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.