Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Pa-wees verdoof nie sy Loftus-pyn

Rugbyspeler van die jaar, een van die beste voorspelers ter wêreld en nou óók pa van Pieter. 

“Ek is in die wolke,” sê Pieter-Steph du Toit. “Dit gee jou perspektief. Die seuntjie se geboorte is ’n ongelooflike voorreg. Ek kan nie gelukkiger wees nie. Rugby is ’n beroep en jy het ’n verantwoordelikheid teenoor mense daar buite, jouself en die span, maar jy het ook ’n lewe buite rugby. Dis vir my baie belangrik,”

Pieter-Steph du Toit wys hoe die Stormers Saterdag teen die Bulle op Nuweland moet maak. Foto: Gallo Images

Ten spyte van die vreugde van ouerskap dra die skitterende Springbok-flank nietemin steeds soos elke ander Stormer en ondersteuner ’n tikkie seer saam – die pyn van die slae van 3-40 wat hulle in die eerste naweek van die Superreeks teen die Bulle op Loftus op die lyf geloop het. 

Al sê die Stormers dit nie hardop nie, sal dit beslis as motivering vir Saterdag se herontmoeting tussen die aartsvyande op Nuweland dien.

“Ja, dis in ons agterkoppe,” sê Du Toit oor die skandes wat die Stormers in die eerste wedstryd van hul veldtog gemaak het.

“Vandag was maar taai, want die ouens is teleurgesteld oor die naweek. Ondersteuners sê egter vir jou dat, ongeag wat in jou veldtog gebeur, jy net die Bulle móét klop. Dit wys hoe spesiaal ’n wedstryd teen die Bulle is.

“Ons gaan alles insit. Mense betaal om te kyk hoe ons speel en ons het ’n verantwoordelikheid teenoor hulle.”

Die Stormers het Saterdag met 17-19 teen die Brumbies verloor.

Die Kapenaars behoort ’n sterker span as in die eerste ronde op Loftus op die veld te stoot. Toe was twee Springbok-ysters – die slot Eben Etzebeth en die loskopstut Steven Kitshoff – weens beserings afwesig.

Etzebeth en JD Schickerling – die Stormers se voorkeurslotpaar – keer vandeesweek terug.

“Hulle is sleutelspelers wat vir ons selfvertroue en energie bring. Dit gaan vir ons ’n yslike hupstoot wees,” sê Du Toit.

Vir die Stormers – en dalk veral vir hul afrigter, Robbie Fleck – lê twee groot naweke voor, met wedstryde teen die Bulle en daarna die Jaguares in Buenos Aires voor ’n loslootjie.

Verloor die Kapenaars Saterdag kan hulle tot nege punte agter die Pretorianers in die Suid-Afrikaanse groep wees. ’n Oorwinning sal egter verseker dat hulle óf in die Bulle se nekke blaas óf selfs verbysteek.

Du Toit besef ook dat die Stormers te doen gaan kry met ’n span wat opskietverdediging baie goed onder die knie het. Op Loftus kon die Stormers dadels op die aanval uitrig.

“Die Bulle het ’n goeie verdedigingstelsel en lynspoed. Ons beplan daarvoor. Hopelik kan ons hierdie keer net by die plan hou en drieë druk,” sê hy.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Stormers  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.