Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Akker vir Bokke bestem, sê Chiliboy
Akker van der Merwe hardloop Dinsdag by die Haaie se oefening in Durban. Foto: Gallo Images

Hulle is weliswaar mededingers om dieselfde nr. 2-trui by die Haaie, maar Chiliboy Ralepelle glo dit is slegs ’n kwessie van tyd voordat Akker van der Merwe ’n Springbok word.

Van der Merwe het Saterdag weer kookwaterspel gelewer in sy span se nederlaag van 39-33 teen die Bulle in Pretoria. Hy is as die Speler van die Wedstryd aangewys.

Hoewel Ralepelle agter Van der Merwe in die haker-tou by die Haaie staan, gun hy sy spanmaat die lof wat hom toekom.

“Akker het ongelooflik baie potensiaal. Hy is ’n uitstekende rugbyspeler en hy het in verskeie wedstryde vanjaar, soos verlede week, gewys waartoe hy in staat is,” het Ralepelle Dinsdag in Durban gesê.

Akker het ongelooflik baie potensiaal. Hy is ’n uitstekende rugbyspeler en hy het in verskeie wedstryde vanjaar gewys waartoe hy in staat is.
Chiliboy Ralepelle

“Ek dink dit is net ’n kwessie van tyd voordat hy sy kans by die Bokke kry. As hy sy geleentheid kry, moet hy seker maak hy gryp dit met albei hande aan.”

In Ralepelle, Van der Merwe en Franco Marais is die Haaie geseën met drie puik hakers. Ralepelle sê dié mededinging bring die beste in hom na vore.

Chiliboy Ralepelle tydens ’n oefening in Durban. Foto: Gallo Images

“Dit is gesonde kompetisie. Ons is broers weg van die veld en op die veld. Ek help hulle met van die kennis wat ek deur die jare opgedoen het, sodat hulle beter spelers kan word. Dit is baie goed vir Suid-Afrikaanse rugby dat ons so baie diepte op haker het,” sê hy.

Ralepelle het Saterdag in sy 100ste Superrugby-wedstryd gespeel nadat hy sy buiging in 2006 vir die Bulle gemaak het.

“Om my 100ste Superrugby-wedstryd te speel en dít boonop terwyl ek vir die Haaie speel, was ’n reuse-eer. Dit was ’n emosionele ervaring. My eerste wedstryd in 2006 voel soos gister. As jy my in 2006 moes vra of ek by 100 Super-stryde sou uitkom, sou ek waarskynlik nee gesê het,” sê hy.

Nadat Ralepelle ’n paar jaar in die rugbywildernis was en boonop ’n skorsing vir die gebruik van ’n verbode middel uitgedien het, het hy verlede jaar weer vir die Bokke gespeel. Sedertdien mik hy om nog te verbeter.

“As ’n sportman streef jy daarna om die beste te wees. Ek het na statistieke gekyk van wat ek verlede jaar gedoen het en probeer vasstel hoe ek daarop kan verbeter. Ek het saam met die kondisioneringsafrigters gewerk en meer werk gedoen.

“Ek het ook meer begin fokus op my ingesteldheid en hoe ek oor die spel dink. Ek kan net my bes op die veld doen.”

Ek het ook meer begin fokus op my ingesteldheid en hoe ek oor die spel dink. Ek kan net my bes op die veld doen.
Chiliboy Ralepelle

As hy in die groep bly, sal hy Saterdag in Durban teen die Chiefs weer ’n geleentheid kry om sy bes te doen.

Die Haaie kom teen ’n Chiefs-span te staan wat van 20 van sy voorkeurspelers gestroop is. Nieu-Seeland se Superrugby-breiers is almal beveel om hul All Blacks twee wedstryde ’n ruskans te gun voor Junie se toetsreeks teen Frankryk. Die All Blacks Nathan Harris, Brodie Retallick, Damian McKenzie en Anton Lienert-Brown sal dus nie Saterdag in aksie wees nie.

Daarbenewens sukkel die Chiefs ook met ’n gros beserings.

“Dit verander niks. Al wat verskil, is dat hulle met spelers gaan opdaag wat baie graag wil wys hulle hoort daar,” sê Ralepelle.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Akker Van Der Merwe  |  Chiliboy Ralepelle  |  Durban  |  Superrugby  |  Springbok  |  Haker  |  Haaie  |  Chiefs  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.