Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Ali reg om Kitsie se skoene te vul

Die Stormers sal Dinsdag weet of hul Springbok-loskopstut, Steven Kitshoff, fiks sal wees vir Saterdag se Superrugby-wedstryd teen die Bulle, maar hul wêreld sal nie inmekaar tuimel sonder hom nie.

Ali Vermaak by Maandag se skrumoefening van die Stormers in Bellville. Foto: Gallo Images

Inteendeel, Russell Winter, die Kapenaars se voorspeler-afrigter, meen Loftus is net die regte verhoog vir Ali Vermaak om te wys waartoe hy in staat is.

“Dit sal ’n verlies wees as Steven nie beskikbaar is nie, maar laat ek jou vertel dat Ali fantasties was in verlede jaar se Curriebeker-reeks en regtig ’n geleentheid verdien,” het Winter Maandag ná die Stormers se eerste oefening van die week by die Westelike Provinsie se Sentrum vir Uitnemendheid in Bellville gesê.

“Ali was een van die WP se beste voorspelers in verlede jaar se Curriebeker-reeks. Hy gee sy hart en siel vir die span, is in murg en been ’n WP-seun, skrum sterk en is goed in die los. Ek hoop van harte vanjaar is sy groot jaar,” voeg Winter by.

“Corné Fourie het ook van die Leeus af by ons aangesluit met ’n puik ingesteldheid. Diepte gaan vanjaar vir ons ’n groot bondgenoot wees.”

Ongeag Winter se woorde sal dit moeilik wees om die leemte te vul wat straks deur Kitshoff gelaat gaan word nadat hy in die afgelope Vrydag se vriendskaplike wedstryd teen die Boland-Kavaliers sy dyspier verrek het.

Die skrums was die een aspek van die spel waar die Stormers waarskynlik op oorheersing sou kon staatmaak teen die Bulle en sonder hom is dit minder van ’n troefkaart.

Iets wat die Stormers se agttal wel sal aanspoor, is die drag slae wat hulle in verlede jaar se nederlaag op Loftus gekry het.

“Op Loftus speel die Bulle se pak teen ’n intensiteit wat jy op toetsvlak kry. Ons agttal is reg daarvoor en het uit die verlede geleer. Verlede jaar was taai en ons pak gaan regtig spiere moet bult vir ons om te kan wen,” sê Winter.

Die Stormers se voorspeler-afrigter, Russell Winter, by Maandag se oefensessie in Bellville. Foto: Gallo Images

Winter verwag dat die Springbok-haker Schalk Brits en -agtsteman Duane Vermeulen die Bulle aansienlik gaan versterk. Albei is oud-Stormers.

“Die bonus met hulle is dat albei baie ervaring van groot wedstryde het. Hulle is puik spelers. Wanneer die ruggraat van ’n span ter sprake kom, is die haker en agtsteman ’n uiters belangrike deel daarvan,” sê hy.

“Bygesê het ons ook puik spelers en sien hulle uit na die tweestryde.”

Winter meen nie veel kan gelees word in die Stormers se onlangse sege oor die Bulle in die vriendskaplike wedstryd in die Kaapstad-stadion nie.

“Ek dink nie hulle het veel weggegee nie en dieselfde geld ons. Daar was wel oomblikke van puik spel deur die Bulle en hul afrigters doen baie goed. Hierdie naweek gaan anders wees. Daar gaan voorlangs ’n groot stryd woed.”

Superrugby-bepalings

Meer oor:  Stormers  |  Steven Kitshoff  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.