Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Alle oë op Elton en Quade op Ellispark

Nege van die 23 Leeus-spelers wat Saterdagmiddag op Ellispark uitdraf, was vier jaar gelede nog op die skoolbanke.

Maar ’n eksamen soos Saterdag op hulle wag, het hulle waarskynlik nooit gehad nie.

Die Leeus-vleuel Ruan Combrinck het lanklaas moeilike vrae op die aanval gestel. Ellispark sal hoop dit verander Saterdag. Foto: Gallo Images

Die Johannesburgers sal nie ’n oomblik hul konsentrasie kan verslap nie wanneer hulle gasheer speel vir ’n Rebels-span wat vanjaar van krag tot krag gaan.

Die Suid-Afrikaans-gebore Dave Wessels se span is die voorloper in die Australiese konferensie, ná seges in al drie hul eerste wedstryde, en spog boonop met ’n prima-skakelpaar in Will Genia en Quade Cooper.

Hulle gaan in die Goudstad ’n pak vol spierkrag inspan en kan agterlangs op die talente van Genia, Cooper, die heelagter, Dane Haylett-Petty, en linkervleuel, Reece Hodge, staatmaak om amok te saai.

As die broeke die afgelope week op Ellispark gebewe het oor die moontlike storm wat wag, het almal dit baie goed weggesteek.

Hulle weet die Rebels gaan hul ligte agttal in hul visier hê, het die Leeus se voorspeler-afrigter, Philip Lemmer, gesê, met die liggaamshouding van iemand wat graag wil byvoeg: Kom ons kyk maar hoe werk dit uit vir hulle.

Ja, die Rebels het ’n skakelpaar om te vrees, het die agterlynafrigter, Neil de Bruin, erken – maar die Leeus se Elton Jantjies en Ross Cronjé is mos darem self geen hierjy’s nie.

Die moontlikheid is groot dat die uitslag van die wedstryd deur die vertonings van die onderskeie losskakels bepaal sal word.

Daar is definitiewe parallelle tussen Cooper en Jantjies. Albei se talent is ver bo verdenking, albei was al telkemale wedstrydwenners vir hul spanne – maar albei het ook al genoeg drooggemaak om rugbyondersteuners die duiwel in te maak.

Terwyl Cooper tot dusver hierdie seisoen nader aan sy beste as in baie jare is, is Jantjies nou al vir baie jare ’n vaardige toutjietrekker in die Leeus-trui.

Benewens die fokus op die losskakels sal alle oë ook weer op die Leeus se groentjies wees.

Die 20-jarige heelagter, Tyrone Green, is die nuutste melkbaard wat aan die diepkant ingegooi word, en sal nie bottervingers kan bekostig as Cooper en Haylett-Petty missiele op hom begin lanseer nie. Gelukkig het die Leeus ’n versekeringspolis uitgeneem met die herinsluiting van die regtervleuel Ruan Combrinck, wat veilig onder die hoë bal is.

Green sal hoop op ’n debuut soortgelyk aan dié van sy eertydse Jeppe-spanmaat Wandisile Simelane, wat die vonke verlede week teen die Jaguares behoorlik laat spat het. Vir groter inspirasie kan Green skaars vra.

Simelane het vlerke aan sy voete en kan enige span op sy dag van hul voete af hardloop. Hy sal weer kombineer met Franco Naudé, wie se eerste verskyning in die Leeus-trui verlede week heel goed afgeloop het.

De Bruin het gesê hy hoop die duo is weer so kalm soos verlede week, aangesien hulle saam vir chaos kan sorg.

Voorlangs kry die flank Vincent Tshituka kans om voort te bou op sy goeie buiging verlede week.

In die Leeukuil was die groot fokus die afgelope week op die voorspelers, veral ná hul gesukkel om die Jaguares se rolmaal verlede naweek te stuit. Daardie probleem sal hopelik met die terugkeer van die slotte Marvin Orie en Stephan Lewies opgelos word.

Waar daardie aspek gehaper het, was die voorspelers op die aanval steeds vuurwarm en in die skrums haas onhanteerbaar. Die voorry van Dylan Smith, Malcolm Marx en Carlu Sadie (op 21 ook een van die jongelinge in die Leeus-span) het nog nie hierdie seisoen skandes gemaak nie, en sal opgewonde wees oor die uitdaging wat Saterdag wag.

Die Rebels het die Brumbies verlede week geklop omdat hul voorry ’n stewige grondslag gelê het, en dis verrassend dat die haker, Robbie Abel, en stut Matt Gibbon (wat albei verlede week hul buigings gemaak het) die week na die plaasvervangerbank geskuif is.

In hul plek is twee 30-jarige hardebaarde wat die Leeus nie durf onderskat nie. Abel is vervang deur Anaru Rangi en Gibbon deur die Wallaby Tetera Faulkner.

Leeus: Tyrone Green; Ruan Combrinck‚ Wandisile Simelane‚ Franco Naude‚ Courtnall Skosan; Elton Jantjies‚ Ross Cronjé; Albertus Smith‚ Vincent Tshituka‚ Marnus Schoeman; Stephan Lewies‚ Marvin Orie; Carlu Sadie‚ Malcolm Marx (k)‚ Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher‚ Sithembiso Sithole‚ Frans van Wyk‚ Rhyno Herbst‚ Ruan Vermaak; Gianni Lombard‚ Lionel Mapoe‚ Andries Coetzee.

Rebels: Dane Haylett-Petty (k); Jack Maddocks‚ Tom English‚ Billy Meakes‚ Reece Hodge; Quade Cooper‚ Will Genia; Isi Naisarani‚ Brad Wilkin‚ Luke Jones; Adam Coleman‚ Ross Haylett-Petty; Sam Talakai‚ Anaru Rangi‚ Tetera Faulkner. PLAASVERVANGERS: Robbie Abel‚ Matt Gibbon‚ Jermaine Ainsley‚ Matt Philip‚ Angus Cottrell; Michael Ruru‚ Sione Tuipulotu‚ Marika Koroibete.

Skeidsregter: Egon Seconds.

Assistent-skeidsregters: Jaco Peyper‚ Cwengile Jadezweni.

TV-skeidsregter: Willie Vos.

Afskop: 15:05.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Rebels  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.