Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Altmann Allers hoop Leeus kan speel

Hierdie virus is iets wat sommer net oor jou pad kom. Jy gaan soek nie daarna nie.

Dit is hoe Altmann Allers, die voorsitter van die Leeus se Rugbymaatskappy, die krisis opgesom het waarmee hy en sy unie nou opgeskeep sit.

Ivan van Rooyen (links), afrigter van die Leeus, en Dan Kriel, wat die afgelope naweek as kaptein sou waargeneem het, verlede week tydens die aanlyn aankondiging van die span. Foto: Gallo Images

“Dit is iets ongehoord wat ons nie ken nie en dit is vir ons ’n baie moeilike situasie om te hanteer.

“Wat hier by ons gebeur is nou in die hande van die mediese personeel en is ’n mediese saak. Dis nie ’n rugbysaak nie en uit die rugbymense se hande.

“Ons het onsself in die situasie bevind dat daardie besluit (om die wedstryd teen die Cheetahs af te gelas) ter wille van mediese redes geneem is. Ons kon net nie iets anders doen nie. Dit is nodig om ons spelers en personeel te beskerm,” sê Allers.

Hy het dit duidelik gestel dat hy voel indien daar ’n kans is dat wedstryde wel gespeel kan word, dit moet gebeur.

“Selfs al speel ons nie met wat noodwendig ons volsterkte span is nie. Ek voel net vir die moreel van almal, moet rugby kan voortgaan. Die uitslag word wat my betref nie nou voorop gestel nie, maar bloot die feit dat ons wel net kan speel.

“As ons aanpassings moet maak met ons groep om wel ons verpligtinge na te kom, sal dit gedoen word,” sê hy.

“Ons bevind onsself nou in ’n baie ingewikkelde situasie. Dit is ongekend in ons rugby. Ons moet nou kyk na ander situasies elders in die rugbywêreld waar dit al gebeur het, soos by Wasps waar daar ’n groot gros spelers in kwarantyn geplaas moes word, maar hulle steeds die afgelope naweek in ’n eindstryd gespeel het.

“Ek weet ook nie of ons wedstryd teen die Cheetahs wel sal kan plaasvind nie, want die program is baie vol. Hopelik kan dit wel steeds iewers ingepas word,” sê Allers.

Altmann Allers, voorsitter van die Leeus se Rugbymaatskappy. Foto: Gallo Images

“Ek glo dat die hele rugbygemeenskap moet saamwerk en mekaar ondersteun, anders kan hierdie ding met ons almal weghardloop. Goeie kommunikasie is beslis nodig tussen die unies en Saru (die Suid-Afrikaanse Rugbyunie) en daarom moet daar dadelik opgetree word indien enige van die koronagevalle by ’n unie aangemeld word,” sê hy.

“Daar blyk nie ’n eenvoudige oplossing vir hierdie kwessie te wees nie, maar die realiteit van alles het ons hard getref die afgelope week. Ons het dit nou aan ons eie lywe gevoel hoe vinnig so ’n situasie kan uitkring en ’n ernstige probleem raak. Ons krisis moet as waarskuwing dien vir die res van die sportgemeenskap in die land wat kan gebeur.

“Ons het ons protokolle herhaaldelik geëvalueer, maar steeds het die virus dit reggekry om ons binne te dring,” sê hy.

Die Leeus se hele groep is nou in kwarantyn geplaas en daar sal Dinsdag (vandag) weer Covid-toetse ondergaan word. Die Leeus is veronderstel om Vrydagaand op Ellispark teen Griekwas te speel, maar in hierdie stadium is daar geen sekerheid of daardie wedstryd gespeel sal kan word nie.

Vier van die Leeus se spelers is aanvanklik positief getoets vir Covid-19, waarna daar Saterdag nog twee positiewe gevalle was nadat die spelersgroep en afrigtingspersoneel weer getoets is.

Die stryd teen die Cheetahs is toe afgelas nadat die Nasionale instituut vir oordraagbare siektes besluit het dié optrede is nodig om die risiko van verdere infeksie in die rugbygemeenskap te beperk.

Meer oor:  Leeus  |  Superrugby Un­Locked  |  Ellispark  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.