Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Aphiwe Dyantyi ‘kan enige plek speel’

Die Leeus staal hulself vir ’n hewige aanslag voorlangs in Vrydagaand se Super-rugbywedstryd teen die Haaie op Ellispark.

Dit is juis met dit in gedagte dat ’n stewige agttal gekies is en dat dit ook wemel van voorspelers op die plaasvervangerbank.

Aphiwe Dyantyi sal Vrydagaand teen die Haaie die Leeus se middelveld beman. Foto: Getty Images

Die flank Cyle Brink maak sy terugkeer nadat hy die afgelope sewe maande op die kantlyn weens ’n kniebesering was. Sy terugkeer is die enigste verandering aan die agttal wat die Sunwolves geklop het. Hy neem die plek van Stephan Lewies, wat by daardie geleentheid langs die kant van die skrum ingespan is.

Agterlangs is daar egter net drie spelers wat hul posisies behou. Dit is die senter Lionel Mapoe, wat in sy 99ste Super-kragmeting vir die Leeus speel, asook die linkervleuel Courtnall Skosan en die losskakel, Elton Jantjies.

Andries Coetzee keer terug as heelagter, met Tyrone Green wat van daardie posisie na regtervleuel skuif. Aphiwe Dyantyi is die nuwe buitesenter, met Ross Cronjé wat as skrumskakel by Nic Groom oorneem.

Ses van die agt plaasvervangers is voorspelers, wat ’n aanduiding is dat die Leeus die Haaie se tande voorlangs wil trek.

Swys de Bruin, afrigter, sê die terugkeer van Brink word met ope arms deur die Leeus verwelkom.

“Hoe hoog hy aangeslaan word, is weerspieël toe ek sy naam uitgelees het en die atmosfeer wat daar tussen die spelers geheers het om hom terug te hê,” sê hy.

Brink het die besering opgedoen op ’n Springbok-oefenkamp toe ’n ander speler bo-op hom geval het.

Hy het toe ’n spier onder sy knieskyf geskeur.

Oor die besluit om die haastige Dyantyi as senter in te span terwyl hy eintlik ’n vleuel is, sê De Bruin hy het die volste vertroue in hom daar, “omdat hy ’n balspeler is en eintlik enige plek gekies kan word daar in die agterlyn”.

Oor die besluit om met die jong slot Ruan Vermaak op agtsteman te volhard, sê De Bruin hierdie oudproduk van die Hoërskool Monument is iemand wat “al die pad sal gaan as hy koelkop bly en sy voete op die grond hou”.

De Bruin glo die Haaie gaan desperaat wees en met ’n geweldige aanslag vorendag kom.

Leeu-span: Andries Coetzee, Tyrone Green, Aphiwe Dyantyi, Lionel Mapoe, Courtnall Skosan, Elton Jantjies, Ross Cronjé, Ruan Vermaak, Cyle Brink, Marnus Schoeman, Marvin Orie, Rhyno Herbst, Carlu Sadie, Malcolm Marx (k) en Sti Sithole. PLAASVERVANGERS: Jan-Henning Campher, Nathan McBeth, Frans van Wyk, Wilhelm van der Sluys, Stephan Lewies, Nic Groom, Hacjivah Dayimani en Sylvian Mahuza/Wandisile Simelane.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Leeus  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.