Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Beerwinkel kan troefkaart wees teen Pumas

Die oud-Puma Andrew Beerwinkel word as een van Griekwas se troefkaarte vir die naweek se Superrugby Unlocked-kragmeting met die Laevelders beskou.

Beerwinkel (27), ’n stut, is die enigste verandering aan die Poubloues se 23-tal vir Saterdag se wedstryd in Kimberley. Dít nadat die Noord-Kapenaars verlede naweek goeie rekenskap van hulself in hul eerste kragmeting in die reeks teen die Bulle in Pretoria gegee het.

Andrew Beerwinkel, hier in aksie vir die Pumas, word as een van Griekwas se troefkaarte teen sy ou span beskou. Foto: Gallo Images

Beerwinkel, ’n boorling van Saron in die Wes-Kaap, is ’n loskopstut, wat ook op vaskop kan sak indien dit benodig word.

Hy het die Suid-Afrikaanse Skolespan in 2011 en die Junior Bokke in 2013 verteenwoordig en vervang Bandisa Ndlovu op die plaasvervangersbank.

“Ek dink kontinuïteit is belangrik vir ’n span se ontwikkeling en dit help ook vir kombinasies om te ontwikkel. Hoewel ons verlede week verloor het, was die intensiteit en poging wat die spelers ingesit het beslis daar,” sê Scott Mathie, afrigter van die Poubloues.

Ons kan nie bekostig om nou die voet van die pedaal te haal nie en moet ons in elke wedstryd laat geld.
Scott Mathie

“Andrew was siek en is weer gereed. Omdat hy tevore by die Pumas was, dink ek hy gaan hierdie week van groot waarde wees.

“Ek het dit tevore gesê, fisieke teenwoordigheid is baie belangrik. Ons kan nie bekostig om nou die voet van die pedaal te haal nie en moet ons in elke wedstryd laat geld.”

Mathie se eweknie by die Pumas, Jimmy Stonehouse, was onder meer weens beserings genoodsaak om die snoeiskêr in te lê.

Pieter Jansen van Vuren, wat voorheen vir Griekwas gespeel het en Darrien Landsburg is die nuwe slotpaar in die plek van Le Roux Roets en Cameron Lindsay. Jansen van Vuren neem ook die kapteinskap by die beseerde Ryan Nell (senter) oor.

Jeandré Rudolph is in die beginspan ingesluit vir Saterdag se kragmeting in Kimberley. Foto: Gallo Images

Stonehouse het ook ’n nuwe lostrio gekies in Jeandré Rudolph, Willie Engelbrecht en Francois Kleinhans.

Agterlangs is die grootste verandering die oud-Kings-speler Erich Cronjé, wat Nell in die middelveld vervang, waar hy ’n kombinasie met Wayne van der Bank sal vorm.

Stonehouse sê hy is verheug oor die ondervinding wat iemand soos Cronjé, wat die Oos-Kapenaars in die Pro14-reeks verteenwoordig het, sy span bied.

“Ons het vandag so gepraat en daar was agt ouens in die span teen die Cheetahs (verlede naweek) wat nog nooit in hulle lewe Curriebeker-rugby gespeel het nie.

“Erich kom in met ’n bietjie ervaring en Pieter gaan die rol hê om die ouens bymekaar te bring. Maar of jy nou ervare is of nie, jy is gekies en moet die werk doen. Ons moet net seker maak dat ons van die begin af die bal behou.”

Spanne

Griekwas: Anthony Volmink, Daniel Kasende, Harlon Klaasen, André Swarts, James Verity-Amm, George Whitehead (k), Zak Burger, Niell Jordaan, Stefan Willemse, Carl Els, Victor Sekekete, Ian Groenewald, John-Roy Jenkinson, HJ Luus, Mox Mxoli. PLAASVERVANGERS: Alandré van Rooyen, Andrew Beerwinkel, Madot Mabokela, Adré Smith, Zandré Jordaan, Gideon van der Merwe, Ashlon Davids, Berton Klaasen.

Pumas: Devon Williams, Etienne Taljaard, Erich Cronjé, Wayne van der Bank, Neil Maritz, Eddie Fouché, Ginter Smuts, Jeandré Rudolph, Willie Engelbrecht, Francois Kleinhans, Pieter Jansen van Vuren (k), Darrien Landsburg, Ruan Kramer, Simon Westraadt, Morgan Naudé. PLAASVERVANGERS: HP van Schoor, Liam Hendricks, Heath Backhouse, Phumzile Maqondwana, Dian Badenhorst, Niel Marais, Ali Mgijima, Dewald Maritz.


Meer oor:  Pumas  |  Superrugby Unlocked  |  Griekwas  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.