Die Leeus kan dalk Saterdag sonder hul inspirerende kaptein en agtsteman, Warren Whiteley, wees in die Superrugby-wedstryd teen die Highlanders op Ellispark in Johannesburg.

Dis nog onseker of Warren Whiteley die Leeus Saterdag teen die Highlanders op die veld sal lei. Foto: Gallo Images
Whiteley het nie Dinsdag saam met die span geoefen nie en volgens ’n woordvoerder van die unie sal daar eers later in die week ’n finale besluit geneem word oor sy beskikbaarheid. Hy het swelling op die knie ervaar en ook nie Maandag geoefen nie.
Die voorryman Dylan Smith het wel gesê dit sal vir die Leeus ’n terugslag wees as hul kaptein, wat soveel leiding op die veld gee, nie kan uitdraf nie.
Whiteley, wat die afgelope twee jaar bloots deur beserings gery word, het die afgelope naweek in die sege met 29-28 oor die Waratahs teruggekeer en ’n groot rol gespeel om sy span oor die wenstreep te kry.
Hy sal van onskatbare waarde vir die res van die reeks wees en indien dit sou wees dat hulle sonder hom moet klaarkom, sal dit ’n baie gevoelige slag wees.
Daar is ook nog onsekerheid of die flank Cyle Brink teen die Highlanders sal kan speel. Indien hy wel fiks verklaar word, sou Kwagga Smith na agtsteman kon skuif, met Brink en Vincent Tsitsuka dan die flanke.

Hacjivah Dayimani, hier teen die Valke in aksie, het Dinsdag weer saam met die Leeus se Superrugby-span geoefen. Hy is op senter op die proef gestel teen die Valke, maar sal moontlik weer op agtsteman vir die Super-stryd teen die Highlanders oorweeg word. Foto: Gallo Images
Hacjivah Dayimani, wat ook met tye as losvoorspeler uitgedraf het vir die Leeus, en wat verlede Saterdag vir die Goue Leeus XV in die SuperSport-uitdaagreeks teen die Valke as senter op die proef gestel is, was Dinsdag by die Superspan se oefening, wat ’n aanduiding is dat hy moontlik in Whiteley se afwesigheid betrek sal word of dalk selfs as plaasvervanger oorweeg sal word.
Marnus Schoeman, wat as losvoorspeler-plaasvervanger teen die Waratahs gebruik is, sal ook in die prentjie kom en kan dalk ook nou in die beginspan wees, sou Kwagga Smith na agtsteman skuif.
Die Highlanders is ook reeds sonder hul groot inspirasie as leier en heelagter, die All Black Ben Smith.
Net soos Whiteley is hy ’n staatmaker op en van die veld en hulle sal hom gewis ook baie mis.
Superrugby-bepalings
Superrugby-puntelyste
Superrugby-uitslae