Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bielie gaan in Jake se Bul-skrum sak

Die 19-jarige bielie-stut Jan-Hendrik Wessels is klaarblyklik deel van Jake White se Superrugby-planne.

Jan-Hendrik Wessels stamp ’n Argentyn af tydens ’n wedstryd vir die SA Skole-span verlede jaar. Foto: Gallo Images

Wessels, wat die skaal op 120 kg trap en 1,9 m lank is, het by die Bulle geteken nadat hy vroeër ’n kontrak van ses maande met die Franse klubspan Clermont aangegaan het.

Wessels het as skolespeler uitgetroon met sy bou en krag en dit het nie juis verbaas toe hy verlede jaar ná skool Frankryk toe is vir ’n proesel Franse rugby nie.

Hy is egter terug in die land nadat hy genooi is om hom by die Junior Bokke se oefenkamp aan te sluit. Sedertdien het die inperking hom en ’n paar ander spelers van oorsee in die land gehou.

Kade Wolhuter, nog een van die jong spelers wat einde verlede jaar na Frank­ryk is, hoop om vorentoe die Westelike Provinsie se eerstekeuse-losskakel te word.

Wessels en Wolhuter het saam met George Cronjé en Marcell Muller besluit om hul loopbane hier te hervat. Cronjé en Muller se kontrakte met die Cheetahs is reeds die week bevestig.

Verskeie ander juniors soos FC du Plessis, Lesley Botha en Danwich Beukes keer wel ná die inperking weens die Covid-19-pandemie na Frankryk terug.

Du Plessis en Beukes tel onder Toulon se gelukkige werknemers en Botha oefen al saam met Montpellier se senior span.

Wessels en Cronjé het net kontrakte van ses maande met Clermont gehad. Hulle en Wolhuter het vanweë SA Rugby se uitnodiging in Maart om aan die Junior Bokke se oefenkamp in Stellenbosch deel te neem, vroeër as die res na Suid-Afrika teruggekeer.

Cronjé het die Cheetahs verkies omdat hy landbou op Kovsies wil studeer en nader aan hul plaas in die Theunissen-omgewing wil wees.

Wessels se ouers bly in Bloemfontein waar sy ma, Maryna, ’n bekende fisioterapeut is. Al het die Cheetahs se Hawies Fourie probeer om ook Wessels te kontrakteer, kon die ou grote eenvoudig nie nee sê vir die planne wat White met hom het nie.

’n Sterk moontlikheid bestaan dat Wessels al volgende jaar deur White op Superrugby-vlak losgelaat sal word.

Dis baie jonk vir ’n Super-voorryman, maar as White meen hy is goed genoeg, is hy ook oud genoeg.

Lizo Gqoboka en Trevor Nyakane bly uiteraard White se eerstekeuse-loskopstut en -vaskopstut, maar die voormalige Springbok-afrigter het ’n baie hoë dunk van Wessels, wat verlede jaar een van die SA Skolespan se kragmanne was.

White het ook planne met die stut Tielman Nieuwoudt, wat verlede jaar een van Wessels se Cravenweek-spanmaats by die Vrystaat was.

Nieuwoudt herinner ’n mens onwillekeurig aan ’n CJ van der Linde en sal hom volgende jaar by Wessels in Pretoria aansluit.

Wessels begin sy loopbaan by die Bulle reeds op 1 Julie vanjaar.

Die 18-jarige Wolhuter se besluit om weer in Suid-Afrika te speel, is beïnvloed deur die geleenthede wat vorentoe op losskakel by die WP kan oopgaan, maar hy wil ook sy rugby in dié stadium van sy loopbaan naby sy vriende, familie en in ’n bekende omgewing speel.

Sy kontrak met die WP sal hom minstens tot einde 2022 vir die Kaapse span beskikbaar stel.

Hy en sy Franse klubspan Montpellier, waar hy sedert einde verlede jaar ’n driejaarkontrak gehad het, het ’n skikking bereik wat dit vir hom moontlik gemaak het om vroeër na die WP terug te keer.

Muller het ook ’n langtermynkontrak met Montpellier gehad.

Wolhuter sal een van die dae ’n student aan Maties word. Hy sal in ’n finansiële rigting studeer.

Hy het verlede jaar aan Paul Roos gematrikuleer.

Wolhuter glo sy terugkeer verbeter sy aanspraak om volgende jaar vir die Junior Bokke te speel.

Wessels se gewig toe hy verlede jaar vir SA Skole gespeel het.

Meer oor:  Jake White  |  Bulle  |  Superrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.