Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bok-terugslag vir Bulle voor Super-afskop

Pote Human het ’n beseringsverslag gekry wat enige Superrugby-afrigter dié tyd van die seisoen vrees – een van sy Springbokke gaan die eerste maand of twee van die kompetisie misloop.

Die Bok-flank Marco van Staden is minstens ses weke buite aksie weens harsingskudding.

Dit is ’n gevoelige terugslag vir die Bulle, wat vanjaar reeds sonder ’n groot groep ervare Springbokke in die agttal oor die weg moet kom.

Van Staden het die veld verlede naweek in die oefenwedstryd teen die Tukkies verlaat, maar die aanvanklike prognose was dat hy reeds die afgelope Sondag in die FNB-stadion teen die Leeus sou kon speel.

Die Springbok-flank Marco van Staden sal die Bulle se eerste paar wedstryde in die Superreeks ’n toeskouer wees. Foto: Gallo Images

Herman Rossouw, die Bulle se spandokter, sê omdat dit nie Van Staden se eerste harsingskudding-besering die afgelope jaar is nie, word hy voorkomend gerehabiliteer.

Van Staden sal volgens beplanning op die vroegste op 7 Maart teen die Highlanders kan terugkeer net voordat die Bulle na Australasië vertrek.

Human sal Ruan Steenkamp, wat self pas teruggekeer het nadat hy aan die einde van verlede jaar harsingskudding in Skotland opgedoen het, Wian Vosloo en Jeandré Rudolph kan oorweeg vir die nr. 6-trui.

Nog ’n Bok, die heelagter Warrick Gelant, sal die week ook vanweë harsingskudding nie saam met die span oefen nie.

Daar sal volgende week ’n besluit oor sy beskikbaarheid vir die Bulle se openingswedstryd teen die Haaie in Durban geneem word.

Manie Libbok, wat Sondag indruk gemaak het nadat hy Gelant in die eerste helfte vervang het, sal in die binnebaan wees om die Haaie te pak.

Die agtsteman Muller Uys het die veld Sondag in die eerste minuut met ’n groot sny aan sy voorkop verlaat nadat hy en sy spanmaat Johnny Kotze koppe gestamp het.

Rossouw sê Uys is as ’n voorsorgmatreël vervang en hy sal beslis oorweeg kan word.

Daar is darem ander goeie nuus ook. Albei voorkeurstutte, Trevor Nyakane (kuit) en Lizo Gqoboka (knie), het volkome van hul beserings herstel en begin Woensdag saam met die span oefen.

Sou hulle nie fiks genoeg wees vir die beginspan nie, behoort hulle as plaasvervangers saam te reis na Durban.

Dit sal interessant wees om te sien wie Human as die kaptein, Burger Odendaal, se sentermaat verkies.

Cornal Hendricks het teen die Leeus buitesenter gespeel, met die Tongaan Nafi Tuitavake wat eers Saterdag uit Nieu-Seeland in Pretoria aangekom het.

Kotze, wat verlede seisoen senter gespeel het, word eerder as ’n vleuel oorweeg.

Meer oor:  Bulle  |  Superrugby  |  Marco Van Staden
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.