Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Boom eers volgende seisoen in aksie
Boom Prinsloo, in die wedstryd teen die Bulle. Foto: GALLO IMAGES

Die Cheetahs se bebaarde losvoorspeler Boom Prinsloo, sal nie die seisoen weer op die rugbyveld gesien word nie.

Die 27-jarige Prinsloo het die naweek in sy 49ste Superrugby-wedstryd vir die Cheetahs sy dyspier van die been af geskeur.

Hy sal vir die res van die seisoen uit aksie wees nadat hy Saterdag reeds in die 24ste minuut van die wedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld beseer is.

Hy het Dinsdag hier ’n operasie ondergaan om die spier te “anker” en sterk nou tuis aan waar hy meer as ’n maand bedlêend gaan wees.

Prinsloo het gesê hy is teleurgesteld omdat die besering aan die begin van die seisoen is.

Hy het daarna uitgesien het om ’n volle seisoen vir die Cheetahs te speel.

“Ek is teleurgesteld maar dit is ongelukkig deel van die spel. Ek sal nou maar moet vrede maak dat ek nie weer vanjaar sal kan speel nie,” het die erg teleurgestelde Prinsloo gesê.

’n Lang herstel- en rehabilitasie-proses lê nou vir Prinsloo voor, wat by sy ouerhuis aansterk.

“Dit is seer en ek verduur baie pyn. Gelukkig is my ouers in die stad en my pa het my juis nou (gister) kom oplaai.

“Ek dra ’n stut om die dyspier in plek te hou en sal vir die volgende ses weke bedlêend wees.”

Prinsloo het vanjaar in al ses die Cheetahs se Superrugby-wedstryde tot dusver gespeel.

In drie van die wedstryde, tuis teen die Stormers, teen die Sunwolves in Singapoer en die Leeus in Johannesburg, het hy speelkans van die plaasvervangerbank af gekry.

Die Cheetahs se afrigter, Franco Smith, het gesê dit is ’n groot terugslag vir Prinsloo én die span.

Daar is egter spelers om Prinsloo se skoene vol te staan. Henco Venter, wat Prinsloo teen die Bulle vervang het, behoort in die beginspan vir volgende week stryd teen die Sunwolves hier, ingesluit te word.

Die agtsteman Niell Jordaan, wat ’n tussenribspier teen die Stormers beseer het, behoort teen volgende Vrydag reg te wees.

Hy het Maandag die dokter gesien omdat die besering langer neem om te herstel as wat aanvanklik verwag is. Indien hy dan nog nie ten volle herstel het, sal ’n skandering gedoen moet word om te bepaal wat presies fout is.

'n Bebloede Francois Venter. Foto: Deaan Vivier

* Die Cheetah-kaptein en senter Francois Venter se neus is gister tydens ’n operasie weer gebreek om dit te herstel.

Venter is Saterdag in die 36ste minuut op Loftus Versfeld van die veld af behandel waarna hy teruggekeer het om die Superrugby-wedstryd teen die Bulle te voltooi.

Dié buitesenter behoort egter op sy pos te wees vir die Cheetahs se Super-wedstryd volgende week hier teen die Sunwolves.

“My luggate is bietjie groter gemaak dat ek beter kan asem haal.

“Dit is nog seer, maar ek verduur egter nie té veel pyn nie.

“Ek mag tans aan geen kontak oefeninge deelneem nie, aangesien my neus ’n kraak in het,” het Venter uit sy hospitaalbed gesê.

Nog ’n senter van die Cheetahs, William Small-Smith, het verlede week ’n operasie aan sy groottoon ondergaan nadat hy ’n fraktuur teen die Leeus opgedoen het.

Die Cheetahs het die naweek ’n loslootjie en die span het gister hul oefening vir die week afgesluit.

Venter sluit Maandag by sy spanmaats aan wanneer oefening hervat word.

Intussen het die Cheetahs se afrigter, Franco Smith, gesê hy is verheug sy kaptein sal nie enige wedstryde misloop nie.

“Indien Swys nie reg sou gewees het vir die wedstryd teen die Sunwolves nie, sal ons hom nie nou laat regmaak het nie,” het Smith gesê.



MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.