Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Boom lig sy wortels en word ’n Bul

Dit was ’n moeilike besluit, maar dit was tyd vir ’n loopbaanskuif. En nee dit het niks te make met die onsekerheid wat oor die Cheetahs se toekoms heers nie.

Die Cheetah-flank Boom Prinsloo sal tot aan die einde van 2019 sy rugby vir die Bulle speel.Foto: Gallo Images

So sê Boom Prinsloo, losvoorspeler van die Cheetahs, wat ná tien jaar in dié streek sy wortels gelig het om vir die Bulle te gaan speel.

Die 28-jarige Prinsloo sal hom reeds Maandag by die Bulle aansluit, met wie hy ’n kontrak tot aan die einde van 2019 gesluit het. Hy sal egter nie dadelik vir die Bulle kan speel nie aangesien hy reeds vanjaar vir die Cheetahs in die Superrugby-reeks uitgedraf het.

Sanzaar, die beheerliggaam van rugby in die Suidelike Halfrond, se reël bepaal dat ’n speler wat in ’n 23-tal vir ’n wedstryd was, nie later die seisoen vir ’n ander span mag speel nie. Die Bulle is na wat verneem word nog in gesprek met Sanzaar hieroor.

Prinsloo het vanjaar nog min vir die Cheetahs gespeel nadat hy verlede jaar lank beseer was. Hy het as ’n plaasvervanger net 19 minute Superrugby vir die Cheetahs gespeel waarvan 13 teen die Bulle en ses teen die Jaguares in Buenos Aires was.

Die wedstryd teen die Bulle was sy 50ste Superrugby-wedstryd vir die Cheetahs. Dit was ook sy laaste Superrugby-wedstryd voor sy tuisskare. Hy het ook vanjaar in twee oefenwedstryde vir die Vrystaatse 15-tal gespeel.

Dit was ’n baie taai besluit, maar soos ek sê, dit was tyd dat ek ’n loopbaanskuif moes maak.

“Dit was ’n baie taai besluit, maar soos ek sê, dit was tyd dat ek ’n loopbaanskuif moes maak. Ek is dankbaar vir die Vrystaat vir die laaste tien jaar. Dit is hier (Vrystaat) waar alles begin het.

“Hulle het my ’n kans gegee om senior rugby te speel wat gelei het tot my plek in die Suid-Afrikaanse Sewesspan,” sê Prinsloo oor sy tyd by en verbintenis met die Vrystaat.

Prinsloo was ná ’n ernstige dyspierbesering verlede seisoen in die Cheetahs se vierde Superrugby-wedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld vir die res van die jaar ’n toeskouer.

Hy sê die skuif na die Bulle is vir hom ’n goeie geleentheid en het niks te make met feit dat die Cheetahs dalk hul Superrugby-status kan verloor nie.

“Die Bulle is ’n groot unie en het al baie goed in die Superreeks gevaar. Ek dink ook dit sal my goed doen om in ’n ander omgewing te wees, want ek het nog die heeltyd by die Vrystaat my rugby gespeel.”

Die Bulle beleef tans ’n losvoorspelerkrisis. Prinsloo se koms kan vir hulle soos manna uit die hemel wees, mits Sanzaar hom toelaat om te speel.

Prinsloo het die Vrystaat op o.18-, o.19- en o.21-vlak verteenwoordig. Hy was in 2010 die Varsitybeker-reeks se Speler van die Jaar. Hy het dieselfde jaar sy buiging vir die Vrystaat-Cheetahs in die Vodacombeker-reeks teen die Boland in Bloemfontein gemaak.

Sy Curriebeker-buiging was in 2011 teen die Luiperds, ook in Bloemfontein, en in 2012 het hy sy Superrugby-debuut teen die Haaie in Durban gemaak. Tussen 2010 en 2012 was hy deel van Paul Treu se Sewesspan.

Prinsloo het in 2013 ook die Vrystaat-Cheetahs in die Curriebeker-reeks aangevoer.

“Ná goeie diens vir die Cheetahs het die Vrystaat-Cheetahs besluit om hom van sy kontrak vry te stel om nuwe geleenthede te kan nastreef,” sê die Cheetahs in ’n verklaring.

Superrugby-bepalings

Superrugby-uitslae

Superrugby-puntelyste

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.