Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Boom terug op veld ná lang afwesigheid
Boom Prinsloo, flank van die Cheetahs, draf vroeër vanjaar teen die Bulle op Loftus uit. Dit was die laaste keer dat hy in 2016 in ’n Cheetah-trui gesien was. Foto: Gallo Images

Die Cheetah-flank Boom Prinsloo, wat begin April ’n dyspierbesering opgedoen het, is ná byna agt maande terug op die oefenveld.

Hy het in die Superrugby-wedstryd teen die Bulle op Loftus Versfeld sy dyspier van die been af geskeur en was toe vir res van die seisoen ’n toeskouer.

Hy het Maandag saam met die Cheetahs se vergrote groep geoefen.

Prinsloo sê hy behoort sy terugkeer sonder enige probleme te maak en sien uit na die 2017 Superrugby-reeks.

“Ek oefen al so twee maande in die gimnasium en dit is nou die eerste keer dat ek op die veld kom, maar ek voel heel gemaklik.

“Die oefening in die gimnasium saam met Quinton (Kruger, fiksheidsafrigter) was nogal kwaai, so ek is seker die dyspier het behoorlik geheg,” sê Prinsloo.

Hy sê teen Januarie behoort hy heeltemal oorgehaal te wees. Hy sal vir die eerste wedstryd op 25 Februarie teen die Leeus in Bloemfontein beskikbaar wees.

“Dit is lekker om weer saam met my spanmaats op die veld te kan wees. Ek moet sê toe hulle so goed in die Curriebeker-reeks gedoen het, was dit maar sleg vir my, maar dit het my honger gemaak om terug te keer.

“Ek het geen las van die besering meer nie. Nou moet ek net weer my peil op die veld herwin,” sê Prinsloo.

Volgens Corniel van Zyl, voorspelerafrigter van die Cheetahs, lyk Prinsloo goed.

Hy meen ná so ’n lang afwesigheid gaan hulle nie druk op hom plaas nie.

“Ons gaan Boom geleidelik by die groep betrek. Hy was lank uit en daar gaan nié van dag een af verwag word dat sy peil soos die res van die groep s’n moet wees nie,” sê Van Zyl.

Die stut Luan de Bruin, nog ’n speler wat vanjaar weens ’n kniebesering min gespeel het, het ook vir oefening aangemeld.

De Bruin is in die wedstryd teen die Western Force op 21 Junie beseer en het ook onlangs eers weer begin oefen.

* Net drie nuwe gesigte het hulle by Maandag se oefening aangemeld.

Hulle is die losvoorspeler Junior Pokomela wat hom van die Kings af aansluit, die Ikeys-senter Lihleli Xoli en die veelsydige agterspeler van Griekwas, Clinton Swart, wat met ’n ruilooreenkoms by die Cheetahs aangesluit het.

Die groep oefen tot die 25ste van die maand voordat hulle ’n blaaskans neem. Hulle kom dan weer van 6 tot 16 Desember byeen.

Meer oor:  Boom Prinsloo  |  Vrystaat-Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.