Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Pote sien groot toekoms vir Muller

Hy gaan spesiaal wees. Geen twyfel nie, hy kan nog een van Loftus Versfeld se grotes word.

Dit is groot woorde, veral as ’n mens in ag neem dat Pote Human ’n 21-jarige beskryf wat sy eerste treë in Superrugby gee.

Muller Uys in aksie vir die Junior Bokke. Hy maak Saterdag sy Superrugby-debuut vir die Bulle. Foto: Gallo Images

Muller Uys maak Saterdag sy buiging in die kompetisie wanneer die Bulle tuis teen die Highlanders te staan kom.

Dié oudleerling van Paarl Gimnasium vervang Jeandré Rudolph as agtsteman in die beginspan en hy is een van drie veranderings in die agttal.

Uys sou al vroeër in die reeks gespeel het, was dit nie vir die diep sny wat hy in Januarie in die losmaker teen die Leeus aan sy voorkop opgedoen het nie.

“Hy is ’n baie slim speler en hardloop goeie lyne. Hy kom op die regte plekke (op die veld) uit, is lekker fisiek en verdedig goed. Ek is baie opgewonde oor hom,” het Human gesê.

Die Bulle-breier het voorts verras deur sy ervare slotpaar, Juandré Kruger en Andries Ferreira, uit die 23-tal weg te laat.

Ruan Nortjé en die voormalige Matie en Poublou-slot Ian Groenewald vervang hulle.

Human sê hy “soek nuwe energie in die pak” nadat die Jaguares Saterdag sy span voorlangs oorheers het.

“Ons is fisiek oordonder en dit was nie een ou se skuld nie. Ek het wel besluit dit is nodig om die veranderinge te maak.

Pote Human praat Donderdag hard met sy spelers op Loftus se B-veld. Foto: Gallo Images

“Dit beteken nie ek het vir Juandré en Andries afgeskryf nie, want albei van hulle werk baie hard en het dit (die nuus) baie goed hanteer.

“Ian is ’n werkesel en hy het van krag tot krag gegaan sedert hy by ons aangesluit het, terwyl Ruan met groot hart speel en ook aan stuur van ons lynstane sal wees.”

Manie Libbok kry op losskakel ook sy langverwagte kans ten koste van die strydros Morné Steyn.

Human voorspel ondersteuners sal “meer rugby sien” met Libbok in die agterlyn.

Burger Odendaal (enkel) is steeds nie beskikbaar nie en daar is vrae oor die Bulle wat volhard met Johnny Kotze en Nafi Tuitavake in die middelveld.

Human sê dit sal onbillik wees om Tuitavake ná net een wedstryd weg te laat.

“Dit was maar Nafi se tweede wedstryd sedert hy verlede jaar sy arm in die Wêreldbeker-toernooi (vir Tonga) gebreek het.

“Daar is meer van hom verwag, maar hy het niks verkeerd gedoen nie.

“Ons het foute op die verdediging gemaak en die ouens weet daar mag nie ’n herhaling daarvan wees nie.”

Bulle: Warrick Gelant, Cornal Hendricks, Nafi Tuitavake, Johnny Kotze, Rosko Specman, Manie Libbok, Embrose Papier, Muller Uys, Josh Strauss, Marco van Staden, Ruan Nortjé, Ian Groenewald, Trevor Nyakane (k), Jaco Visagie, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Corniel Els, Gerhard Steenekamp, Wiehahn Herbst, Ryno Pieterse, Ruan Steenkamp, Ivan van Zyl, Morné Steyn, Divan Rossouw.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Remgro  |  Bbru  |  Johann Rupert  |  Bulle  |  Superrugby  |  Bbm  |  Patrice Motsepe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.