Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
‘Crusaders is glad nie die beste nie’

Die huidige groep Crusaders is ’n skaduwee van hul kampioenspanne van die verlede en bied geen uitdaging aan Europa se beste klubs nie, glo Stephen Jones.

Stuff.co.nz berig dié omstrede Britse rugbyskrywer is skreiend in sy kritiek oor vanjaar se kampioen en die Superrugbyreeks in die algemeen.

Die Crusaders sal sukkel om die beste klubs in Europa uit te daag, glo Stephen Jones. Foto: Getty Images

Jones erken die Crusaders was Saterdag “terdeë superieur” in hul sege met 37-18 teen die Leeus, maar dit is merendeels weens die tekort aan gehalte van die Suid-Afrikaanse aanslag.

“Die span is nie naastenby so goed soos daardie spanne wat destyds deur Dan Carter geïnspireer is nie en, wanneer jy waarneem die Leeus was kwansuis die tweede beste span in die reeks, wonder jy net hoe pateties die swakste span moet wees,” skryf Jones in die Britse Sunday Times.

Jones glo Suid-Afrikaanse rugby sal beter daaraan toe wees om Superrugby te verlaat.

“Superrugby het al amper soveel probeerslae gehad om ’n suksesvolle formule te vind as rugbyliga.

“Suid-Afrika word absoluut geen gunste bewys nie, want dit dwing sy spanne om in ’n styl te speel wat ver van hul geskiedenis en sterkpunte verwyderd is. Die destydse, tradisionele Curriebeker sal vir hulle van baie meer waarde wees – of selfs beter, Suid-Afrika se volkome oorskakeling na Europese klub- en internasionale kompetisies.”

Jones meen boonop die beste klubs in Engeland, Ierland en Frankryk sal te goed wees vir Scott Robertson se Crusaders-span volgepak met All Black-spelers.

“Daar is altyd in die onmiddellike nadraai van die Superrugbyreeks ’n hunkering na ’n kragmeting tussen die Europese kampioen en die Super-kampioen. ’n Hunkering is presies wat dit moet bly, want daar is reeds ses wedstryde te veel in die Europese seisoen en dit sal skandelik wees om daarby te voeg,” sê Jones.”

“Maar ’n mens twyfel of die Crusaders genoeg skietgoed het om Saracens of Leicester op hul beste uit te daag. Racing 92 sal waarskynlik ook vir hulle te goed wees.

“Ons het nie Saterdag ontdek of die Crusaders oor ’n ander dimensie beskik nie, want hulle het gemaklik genoeg sonder een geseëvier.”

– Sportredaksie

Meer oor:  Leeus  |  Crusaders  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.