Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Brumbies gee Bulle streepsuiker

’n Week gelede het hulle met voortreflike verdediging die Rebels in Melbourne tot oorgawe gedwing, maar Vrydag in Canberra was dit kritieke blapse in dié afdeling wat tot die Bulle se ondergang gelei het.

Die Bulle se kaptein, Duane Vermeulen, probeer vergeefs keer dat die Brumbies-senter Tevita Kuridrani oorbeur vir een van sy drie drieë in Canberra. Foto: Getty Images

Daar was tussen Bulle en Brumbies g’n sprake van vonkelwyn-rugby nie, maar die tuisspan het welverdiend met 22-10 in die Superrugby-reeks geseëvier.

Dit was ’n wedstryd waarin daar weerskante min kanse naby die doellyn was.

Raai wat was die verskil tussen die spanne? Heel voorspelbaar, die Brumbies het klokslag afgerond en die Bulle nie.

Trouens, Duane Vermeulen-hulle het vroeg in die eerste helfte die tuisspan opgefrommel in ’n skrum en Hanro Liebenberg het oorgeval vir die Bulle se eerste en engiste vyfpunter.

Om alles te kroon, moes die blaser, Jaco Peyper, liefs die moeite gedoen het om sy TV-skeidsregter in te span met dié drie.

Daar was oudergewoonte genoeg kanse om Australië met twee uit twee oorwinnings te verlaat, maar die vertoning was, op die keper beskou, een van die Bulle se swakste pogings vanjaar.

Hulle was planloos, onbeholpe en slordig op die aanval en ’n kombinasie van hiervan en swak verdediging gaan altyd op ’n nederlaag uitloop.

Die Brumbies-buitesenter, Tevita Kuridrani, het homself in die proses met ’n driekuns aan drieë beloon.

Van die hardlooplyne waarmee die tuisspan die Bulle se doellyn oorgesteek het, was so reg uit die handleiding.

Die besoekers het vir die grootste deel van die eerste helfte voorgeloop, totdat Kuridrani, in die 37ste minuut deurgesny het vir sy tweede drie.

Kuridrani het vroeg in die wedstryd gaan druk nadat Lizo Gqoboka en Rosko Specman blapse op die verdediging gemaak het. Dit sou die eerste van talle gewees het.

Die misoes is ’n verdoemende voorbode vir wat op die Bulle in Nieu-Seeland wag oor die volgende twee weke.

Vermeulen keer terug huis toe en iemand soos Warrick Gelant (heelagter) is nie ’n skadu van die speler wat hy kan wees nie.

* Puntemakers: Brumbies 22 (12). Drieë: Tevita Kuridrani (3), Irae Simone. Doelskop: Christian Lealiifano.

Bulle 10 (10). Drie: Hanro Liebenberg. Strafdoel: Manie Libbok. Doelskop: Libbok.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Brumbies  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.