Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Brumbies trap Chiefs se tjank af in Hamilton

In ’n wedstryd van twee uiteenlopende helftes het die Brumbies Saterdag in die Waikato-stadion vasgebyt om die Chiefs se Superrugbyspan met 26-14 te troef.

Tom Banks van die Brumbies word vasgevat in sy span se wedstryd teen die Chiefs in Hamilton. Foto: Getty Images

Ná ses maer jare kon dié Australiese span uiteindelik weer in Nieu-Seeland glorie proe en gebaseer op hul vertoning in die eerste helfte alleen, was daar net een span wat dié oorwinning verdien het.

Verlede jaar het die Brumbies die Chiefs in Canberra met 54-17 geslag, maar sekerlik sou soortgelyke tonele hom nie in Hamilton afspeel nie?

Teen rustyd sou die Chiefs se spelers se hande skoon stof begin vergaar van die tekort aan balbesit wat hulle gehad het.

Die eerste helfte het suiwer aan een span behoort.

Die Brumbies se baldraers, met sy lostrio van Rob Valetini, Will Miller en Pete Samu voor in die koor, het hul teenstanders soos pantservoertuie afgestamp met die Chiefs wat soos ’n spul afkophoenders rigtingloos in hul eie agterplaas rondgeskarrel het.

Dit was vroeg ’n slagveld.

Dit het die Brumbies se heelagter, Tom Banks, net agt minute geneem om oor die doellyn te seil vir sy span se eerste drie. Dít nadat die Chiefs se verdediging vroeg al aan die slaap gevang is en hy hopeloos te maklik deurgeglip het.

Net ses minute later is die bielievleuel Solomone Kata, wat deurlopend met sterk lopies beïndruk het, ook beloon met sy eie drie.

En toe die lostrio ook deel van die aksie kry met Samu se vyfpunter net voor lemoentyd, nadat hy van ’n skrum op die doellyn die bal opgetel het en verspotmaklik deur ’n gaping so groot soos Kimberley se gat gedraf het, was die koeël so te sê deur die kerk vir die tuisspan.

Die tweede helfte was skaars twee minute aan die gang toe Samu sy tweede afgerond het met Aaron Cruden en Damian McKenzie wat verbete na lug gegryp het.

Dít het uiteindelik die Chiefs laat wakkerskrik met die gety wat skielik geswaai het.

Eers het Aaron Cruden deurgebars om die nulletjie van die telkaart te haal, voordat James Slipper koelkas toe gestuur is en die tuisspan dadelik munt geslaan het met Anton Lienert-Brown wat oorgeduik het.

Dit was egter die Nieu-Seelanders se laaste punte van die wedstryd met die Brumbies wat verbete verdedig het en, ten spyte van ’n rits strafskoppe teen hulle in die tweede helfte, kon vasklou vir hul eerste regmerkie in hul buurland in 13 probeerslae.

Die Brumbies se losskakel, Noah Lolesio, moet ook geloof word vir die wyse waarop hy sake agterlangs beheer het. Hy was deurlopend koelkop en, buiten sy goeie verspreiding, het hy op kritieke tye ook die druk van sy span verlig met sy skopstewel.

* Puntemakers:

Brumbies 26 (19): Drieë: Tom Banks, Solomone Kata, Pete Samu (2). Doelskoppe: Noah Lolesio (3).

Chiefs 14 (0): Drieë: Aaron Cruden, Anton Lienert-Brown. Doelskoppe: Damian McKenzie (2).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Hamilton  |  Chiefs  |  Brumbies  |  Superrugby  |  Superrugby-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.