Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Brumbies troef Bulle op Loftus Versfeld
Die Bulle se Roelof Smit duik oor vir sy drie. Foto: Gallo Images

Die Bulle was verlede naweek ellendig in Buenos Aires en daar is die afgelope week in Pretoria vertel dit was net ’n afdag.

Hulle het dit Saterdag op Loftus Versfeld opgevolg met ’n ewe treurige vertoning toe die Brumbies hulle met 38-28 getroef het in die Superreeks.

En dít met die besoekers wat die laaste 20 minute met 14 spelers oor die weg moes kom.

Dit was verreweg die span van Canberra se beste poging in die kompetisie sover vanjaar, maar laat dit onthou word dat hulle by Loftus aangekom as die Aussies se swakste span ná vyf nederlae op ’n streep die afgelope maand of wat.

Bulle-ondersteuners sou – ná die foltering wat hulle ’n week gelede moes deurmaak teen Jaguares – tevrede gewees het om die vuurtjie Saterdagaand met min geesdrif aan te steek.

Die Ligbloues is aan die einde geklop deur ’n span wat wóú wen.

Dit was – soos ’n week gelede op Ellispark – ’n rooi kaart in die tweede helfte wat die Brumbies se poging moes laat sneuwel het.

Teen die tyd wat die Brumbies se haker, Folau Fainga’a, in die 61ste minuut afgestuur is vir gevaarlike spel by ’n losgemaal én ’n kopstamp, was die tuisspan 25-24 voor.

Die skrif was aan die muur vir besoekers, maar dit het hulle eerder aangevuur.

Dat die Bulle nie die meevaller kon benut nie en die Brumbies daarna twee keer gaan druk het, sal hulle breier, John Mitchell, ’n bekommerde man maak.

Die dogma van aanskoulike rugby wat deesdae by Loftus nagestreef word is aangenaam, maar dit moet darem ook met wenrugby versoenbaar wees.

Dat die spanne kleedkamer toe is met die tuisspan 14-10 voor, sou die Brumbies laat moed skep het.

Die Bulle het by meer as een geleentheid tot naby die Aussies se doellyn gevorder, maar die drieë van Handré Pollard en Roelof Smit was die enigste opbrengs.

In Superrugby is opportunisme een van die belangrikste deugde en die besoekers het die meeste van hulle kanse gemaak.

Kyle Godwin, die Brumbies se binnesenter, het sy span se eerste van vyf drieë gedruk toe hy munt geslaan het uit ’n swak aangee van Jesse Kriel.

Die Bulle het voor rustyd weer verkies om die kantlyn op te soek, pleks van om op Pollard se betroubare skopvoet staat te maak.

Gee die Brumbies lof vir die wyse waarop hulle die Bulle se rolmale gestuit het.

Die Aussies wat die Bulle te gereeld geroer het in die skrums, was een van die ander krake in die mondering.

Dit was ’n nederlaag wat in alle waarskynlikheid die Bulle se kans om in Julie die uitspeelrondes te haal, beëindig het.

Gebeur dit, sal dit die vyfde jaar agtereenvolgens wees wat die driemalige kampioen nie ’n uitspeelkans kon bespreek nie.

*Puntemakers:

Bulle 28 (14). Drieë: Handré Pollard, Roelof Smit, Johnny Kotze. Strafdoele: Pollard (3). Doelskoppe: Pollard (2).

Brumbies 38 (10). Drieë: Kyle Godwin, Lachlan McCaffrey, Folau Fainga’a, Tom Banks, Andy Muirhead. Strafdoel: Christian Lealiifano. Doelskoppe: Lealiifano (3), Wharenui Hawera (2).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae 

Meer oor:  Brumbies  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.