Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bul-dadig! Haaie op Loftus geslag

As iemand die Bulle moes vra teen wie hulle elke week in die Superrugby-reeks wil speel, sal die antwoord waarskynlik die Haaie wees. Dit blyk immers of daar min dinge is wat Bul se kind só gelukkig maak as om die Haaie pak te gee.

Die Durbaniete het deur die week baie ge-oe en ge-a oor die wraak wat hulle Saterdag op Loftus Versfeld wil neem ná die loesing van 40-10 wat die Bulle hulle ’n maand gelede op Kingspark toegedien het. Dít het toe nie gebeur nie en die Pretorianers was welverdiend met 39-33 baas in dié opwindende stryd.

Warrick Gelant brul van vreugde oor sy drie teen die Haaie, terwyl Johnny Kotze ook nie sy emosies kan beteuel nie. Foto: Gallo Images

Tog hoef die Haaie nie hul koppe in skaamte te laat sak nie, aangesien dié stryd baie anders kon verloop as dit nie vir ’n oomblik van waansin van die Haaie-heelagter, Curwin Bosch, was nie. Vroeg in die wedstryd het hy sy voet uitgesteek om sy Bulle-eweknie, Warrick Gelant, te pootjie. Die skeidsregter, Rasta Rasivhenge, het dié stukkie geniepsige spel misgekyk en spel laat voortduur.

Enkele minute later het Bosch oorgeduik vir die eerste “drie”, maar die televisieskeidsregter, Marius Jonker, het Rasivhenge op Bosch se oortreding gewys. Hy het ’n verdiende geelkaart gekry en die Haaie het twee drieë in sy afwesigheid afgestaan. Hulle was gevolglik al vroeg met 12-0 agter. Hoewel hulle later vlugtig die voortou geneem het, kon hulle nooit van dié swak begin herstel nie.

Net nadat Bosch weer die veld betree het, het hy vergoed vir sy blaps met ’n wettige drie ná ’n puik drukaangee deur Beast Mtawarira.

Die Bulle was wéér, soos in die vorige stryd in Durban, op ’n missie om ruimte uit te buit.

Hoewel daardie betrokke aangee in kontak sy teiken in Bosch gevind het, het iemand die Haaie-voorspelers straks té hard met hoenderarm-aangeë oor die kop geslaan. Veral die Du Preez-tweeling, Dan en Jean-Luc, maak hulle aan die chroniese oorgebruik hiervan skuldig. Soms sal ’n doodnormale Danie Gerber-aangee deug, terwyl dit ander kere slimmer sal moet wees om die bal in kontak in te neem.

Rasivhenge en Jonker het net voor rustyd, met die telling op 19-7 in die Bulle se guns, weer saamgespan. Dié keer het die Bulle-slot RG Snyman deurgeloop. Hy is vir tien minute afgestuur vir ’n laat skouerloop op Cameron Wright.

Sy afwesigheid het sy span sewe punte gekos en die Bulle het met 22-17 voor gaan rus.

Die Bulle was wéér, soos in die vorige stryd in Durban, op ’n missie om ruimte uit te buit. Daarbenewens het hulle ook vir Makazole Mapimpi gereeld getoets met bomskoppe. Mapimpi het die meerderheid van dié toetse met onderskeiding gedop.

Die tuisspan het wel ’n paar duikslae verbrou, maar hul opskietverdediging was ’n doring in die Haaie se vlees. Die Bulle het ook verskeie reuse-duikslae uitgevoer, met Snyman en sy slotmaat Lood de Jager aan die spits.

Die aanvallende spel aan albei kante was goed, maar wat Suid-Afrikaanse spanne se beheptheid is met oorslaanaangeë wanneer hulle ’n ekstra aanvaller in die lyn het, weet nugter alleen. Die Bulle én die Haaie het hulle gereeld hieraan skuldig gemaak. Al wat jy daarmee regkry, is om die verdedigende spelers kans te gee om jou spasie in te perk.

Die Bulle het Gelant gereeld in die losskakel-kanaal laat opduik en daar het dié jong Turk sy lyf generaal gehou. Sy besluitneming is deurgaans aan ’t verbeter en dít is goeie nuus vir die Bok-breier, Rassie Erasmus.

Nóg goeie nuus vir Erasmus was die spel van die Haaie-haker, Akker van der Merwe. Met Malcolm Marx op die krukkelys, is dié rakker besig om dit vir Erasmus baie moeilik te maak om hom uit sy groep vir die toetse in Junie te hou.

  • Punte:

  • Bulle 39 (22): Drieë: Warrick Gelant, Jesse Kriel, Roelof Smit, Johnny Kotze, Lood de Jager. Doelskoppe: Handré Pollard (4). Strafdoele: Pollard (2).

    Haaie 33 (17): Drieë: Curwin Bosch, Jacques Vermeulen, Jean-Luc du Preez. Doelskoppe: Robert du Preez (3). Strafdoele: Curwin Bosch, Du Preez (3).

    Hakers

    Elke speler kry ’n punt uit 10.

    8 - Akker van der Merwe: Dit was asof Van der Merwe sy naam deur die week hoor opduik het as ’n kandidaat vir die Springbokspan. Hy was ’n derduiwel met die bal onder die arm. Die Bulle het gesukkel om hom plat te trek. Trouens, meer as een verdediger het gereeld in die gras geduik wanneer Akker die bal gedra het. Welverdiend die Speler van die Wedstryd.

    6- Akker van der Merwe: Dit was asof Van der Merwe sy naam deur die week hoor opduik het as ’n kandidaat vir die Springbokspan. Hy was ’n derduiwel met die bal onder die arm. Die Bulle het gesukkel om hom plat te trek. Trouens, meer as een verdediger het gereeld in die gras geduik wanneer Akker die bal gedra het. Welverdiend die Speler van die Wedstryd.

    Senters:

    Elke speler kry ’n punt uit 10.

    4 - Lukhanyo Am: Dit was Am se swakste vertoning nog vanjaar. Hy sukkel om ’n impak op die aanval te maak, veral met die Bulle se opskietverdediging wat sy beweegruimte die heeltyd inperk. Hy vaar so-so op die verdediging. Kan ’n oproep van Sanzaar se tugkomitee verwag vir sy geelkaart nadat hy vir André Warner in die lug geloop het.

    7 -Jesse Kriel: Kriel maak ’n uitstekende breekslag wat tot die Bulle se tweede drie lei. Hy val die verdedigingslinie gereeld en verwoed aan – en kloof dit ’n keer of wat oop. Sy besluitneming is ook strate beter as verlede jaar en hy gee die bal meer gereeld uit. Sy verdediging was stewig, terwyl sy slim rolskoppie tot Warrick Gelant se drie lei. 

    Superrugby-bepalings

    Superrugby-puntelyste

    Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.