Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Marcel terug oor Jake en sy lus vir toetse

Marcel van der Merwe glo sy pad terug na die Springbokspan loop deur Pretoria met Jake White as sy navigator.

“Daar is nog altyd die droom om weer vir die Bokke te speel,” het Van der Merwe die afgelope week aan Rapport oor sy skuif Loftus Versfeld toe gesê.

Van der Merwe in aksie vir Toulon.

“Die geleentheid om terug te kom Bulle toe en onder coach Jake te werk, het opgekom en ek het gevoel dit sal die beste besluit vir my as ’n speler wees om Pretoria toe te skuif.

“Die Bulle lê my nog altyd na aan die hart. Dis ’n reis waaroor ek baie opgewonde is.”

Dié 29-jarige boorling van Welkom in die Vrystaat het die Bokke laas in 2015 as ’n 24-jarige verteenwoordig nadat hy in 2014 as ’n 23-jarige sy eerste van sewe toetse gespeel het.

“Dit sal vir my ’n ongelooflike voorreg wees om weer vir die Bokke te kan speel. Ek sal myself graag wil bewys en my plek wil verdien in die span wanneer die tyd reg is.

“Maar ek wil nie nou die kar voor die perde span nie. Ek wil dit dag vir dag neem. My fokus is om die beste speler en spanmaat vir die spelers om my te wees.”

Van der Merwe sal sy rugby minstens tot einde 2022 op Loftus as sy tuisveld speel. Dis die einste veld waar hy tussen 2014 en 2016 in 45 wedstryde vir die Bulle geskrum het voordat hy na die Franse klubspan Toulon is.

“My tyd by Toulon was spesiaal.

“Die ondersteuners en atmosfeer op die speelveld is ongelooflik. Dit is ’n baie spesiale plek om jou rugby te speel.

“Ek voel die afgelope vier jaar wat ek daar was, het my die geleentheid gegee om saam met verskeie afrigters en spelers te werk.

“Ek kon perspektief by hulle almal kry en glo dus ek het baie ervaring en kennis opgedoen. Veral oor skrumwerk en tegnieke in die Noordelike Halfrond, waar daar ’n groot klem op die skrums is.”

Ek glo dit is waar dit begin. ’n Afrigter wat sy spelers verstaan en ’n rugbybrein het!

Hy het in vier seisoene by Toulon in 98 wedstryde vir sy Franse klubspan gespeel. Hy was ook lid van die klubspan wat in die eindstryd van 2017 se Top14-liga teen Clermont gespeel het.

Van der Merwe se vertroue in White as afrigter en sy Bok-hoop was deurslaggewend in sy besluit om uit Frankryk na Loftus terug te keer. Hy glo White kan die Bulle se skip omdraai.

“Ek glo onder coach Jake kan die Bulle weer daardie sukses (soos destyds onder Heyneke Meyer en Frans Ludeke) behaal.

“Ek dink ’n mens het natuurlik ’n goeie afrigter nodig (om weer sukses te behaal). Ek glo dit is waar dit begin. ’n Afrigter wat sy spelers verstaan en ’n rugbybrein het! En dit is wat ons in coach Jake het.

“Ek glo ook dit is belangrik om ’n sterk groep spelers bymekaar te hê wat mekaar op die veld en van die veld af aanvul.

“Laastens dink ek dit is belangrik om ’n goeie kultuur (vir moontlike sukses) te skep, wat ek voel ons sal doen.”

Van der Merwe se eerste prioriteit is om streng by sy rehabilitasieprogram te hou na´ ’n enkelbesering. Hy hoop om in Junie weer perdfris en reg te wees.

Meer oor:  Marcel Van Der Merwe  |  Bulle  |  Superrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.