Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle-baas werp lig op trui-debakel
’n Mengelmoes van Bulle en Highlanders in die eerste helfte van Saterdag se Superrugby-stryd op Loftus Versfeld. Foto: Gallo Images

Hoekom het die Bulle nóú eers in geel begin speel, sou talle ondersteuners van dié span Saterdagaand gewonder het.

Dit was sekerlik net toeval, maar die Bulle was nietemin ’n heel ander span toe hulle Saterdag op Loftus Versfeld ná rustyd met vreemde geel truie te voorskyn gekom het vir die tweede helfte teen die Highlanders.

Die Bulle het 33 punte ingeryg om met 38-13 te seëvier in die spanne se Superrugby-ontmoeting, nadat hulle teen rustyd nog met 5-10 agter was.

Só oortuigend was die tuisspan se oorheersing, dat die Nieu-Seelanders net ’n strafdoel in die tweede helfte by hulle telling kon voeg.

Die Bulle het rustyd inderhaas die geel truie aangetrek nadat van die spelers gekla het hulle kan nie onderskei tussen die spanne se truie nie.

Die Highlanders het met seegroen truie opgedaag, terwyl die Bulle in hul tuisskakering van lig- en donkerblou gespeel het.

Rosko Specman, vleuel van die Bulle, op pad doellyn toe met die vreemde geel truie waarmee die span in die tweede helfte teen die Highlanders gespeel het. Foto: Gallo Images

Alfons Meyer, die Blou Bulle Maatskappy se uitvoerende hoof, sê hy vind dit vreemd dat die beheerliggaam van die kompetisie, Sanzaar, die truie vooraf so goedgekeur het.

“Jy kon in die eerste helfte sien van die spelers sukkel daarmee. Gelukkig het ons die geel truie byderhand gehad by Loftus.”

Dié trui was eintlik veronderstel om die span se wegtrui te wees teen die Waratahs op 21 Maart.

“Ons wou nie vanjaar weer ’n tuis- en ’n wegtrui asook die Captain America-trui laat maak het nie.

“Voor die kompetisie begin het, het ons die Waratahs gevra of hulle dit sou oorweeg om in hulle wit truie te speel as ons daar toer, maar hul het geweier.

“Die plan was dat die geel trui ’n eksklusiewe een sal wees waarvan daar net 1 000 vervaardig word, maar dit lyk nou asof daar dalk nie ’n ondersteunerstrui gaan wees nie.

“Die span sal die trui weer dra teen die Waratahs en daar sal dalk net sowat 30 daarvan wees,” sê Meyer.

Daar was ook ’n bekendstelling van die geel trui in die vooruitsig gestel en Pote Human, die Bulle-breier, het Saterdag geskerts daar kon nie vir ’n beter bekendstelling gevra word nie.

“Ek het wel vir die spelers gesê ek is bekommerd, want dit lyk soos Sundowns-truie en ek is eintlik ’n Pirates-ondersteuner,” het hy met ’n groot glimlag gesê.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Highlanders  |  Bulle  |  Superrugby  |  Alfons Meyer  |  Loftus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.