Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle: Dié 5 bestanddele nodig vir sukses

’n Mens kan Bulle-ondersteuners nie verkwalik dat hulle maar bra koud voel oor die span se vooruitsigte in vanjaar se Superreeks nie.

Die vraag is tereg: Hoekom sal Pote Human in 2019 veel meer uitrig met min of meer dieselfde span as John Mitchell verlede seisoen?

As Lood de Jager en sy span egter vanjaar weer wil hê die Bulle moet ’n faktor wees in Superrugby, sal die volgende moet gebeur:

Die Springbok-losskakel Handré Pollard is op 24 een van die mees ervare spelers in die Bulle-span en sy peil kan die span se aanslag maak of breek in 2019. Foto: Gallo Images

1. Die senior spelers moet leiding neem

Mitchell het goed daarin geslaag om die beste uit Springbokke soos Jesse Kriel, Handré Pollard en De Jager te kry.

Nie net moet die ervare manne hierop voortbou nie, maar die onus is ook op jong Bokke soos Warrick Gelant, Embrose Papier en RG Snyman (later in die kompetisie wanneer hy weer fiks is) om dié seisoen ’n groter impak te maak.

Gelant was al in die Curriebeker-kompetisie ’n groot aanvallende troefkaart vir sy span en hy moet dit nou ook in die Superreeks nadoen.

2. Die agttal moet oorheers

In die Bulle se goue jare in die reeks het alles by ’n voorhoede, wat op die voordeellyn soos ’n blou golf oor die teenstanders kon spoel, begin.

Is daar ’n Bakkies Botha en ’n Danie Rossouw wat vanjaar op die voorgrond gaan tree?

Vir die Bulle om weer welslae in die kompetisie te behaal, is dít verreweg die grootste tekortkoming wat reggestel moet word.

Die span het die afgelope paar seisoene een van die beste lynstane gehad en dit is eerder die skrums wat die groot fokuspunt is.

Daan Human is na Pretoria gelok om die skrums reg te ruk en Saterdag kom hulle voor ’n groot toets te staan teen Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi, Frans Malherbe en Wilco Louw.

3. Bestendige vertonings is ononderhandelbaar

Die Bulle het in 2018 ’n sterbelaaide Hurricanes-span op Loftus verras, maar het later in die kompetisie teen die Brumbies vasgeval in Pretoria.

Die Bulle het ook verlede jaar teen die swakste span in die kompetisie, die Sunwolves, vasgeval.

Daar word jaar ná jaar by Loftus verwys na kragmetings wat die span móés en kón wen.

As die Bulle in 2019 die uitspeelronde wil haal, sal hulle meer gereeld in sulke wedstryde die wa deur die drif moet kry.

Die Sunwolves het die Bulle verlede jaar met die kous oor die kop huis toe gestuur. Hulle kan nie sulke vertonings bekostig as hulle vanjaar die uitspeelrondes wil haal nie. Foto: Getty Images

4. Begin goed en toer goed

Daar word in die Bulle-kamp klem gelê op die eerste vier wedstryde voordat die span in Maart sy eerste loslootjie het.

Die Bulle kon die afgelope drie seisoene in die eerste maand van Superrugby net vier uit 12 kragmetings wen.

Met die span wat laat gaan toer, is dit van groot belang dat die Bulle vroeg selfvertroue en momentum kry.

Daar sal voorts iets aan die Bulle se vernederende oorsese vertoningslys gedoen moet word.

Sedert die Bulle die Blues in Maart 2013 in Auckland geklop het, was die span in net twee uit 24 ontmoetings in Australasië en weg teen die Jaguares en die Sunwolves aan die wenkant.

De Jager-hulle moet die sielkundige struikelblok oorkom wanneer hulle in Mei en Junie teen die Rebels, Brumbies, Blues en die Highlanders te staan kom.

Dit hoef nie mooi te wees nie, maar die Bulle móét oorsee wen.

5. Moenie deur verwagtinge verlam word

Mitchell het in sy tyd op Loftus dikwels daarop gewys dat hy daarteen waak dat verwagtinge sy spelers se vertonings negatief raak.

Human het dieselfde uitdaging en dit is nie so eenvoudig om bloot te verkondig dat daar altyd druk sal wees nie.

Die leë bekerkas op Loftus en die waarskuwing uit die raadsaal dat vanjaar se vertonings ’n groot impak op die volhoubaarheid van die Blou Bulle Maatskappy (BBM) sal hê, lê swaar die spelers se skouers.

Meer oor:  Pote Human  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.