Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle geweeg voordat 2020-seisoen begin

Daar is al genoeg gesê en geskryf oor die groot groep Springbokke wat die Bulle verloor het verlede seisoen.

Met die Superrugby-reeks wat Vrydag begin, is dit tyd om vorentoe te kyk na die “nuwe” Bulle van 2020.

’n Groot verantwoordelikheid rus vanjaar op die Bulle-kaptein, Burger Odendaal, se skouers. Foto: Getty Images

Ywerig, maar goed genoeg?

Die kern van die span, wat verlede jaar die keur onder die Suid-Afrikaanse franchises was, is nie meer beskikbaar nie.

Beskou jy dit in ’n positiewe lig, gee dit Burger Odendaal-hulle die voordeel dat hulle ’n onbekende faktor is.

Morné Steyn is ná baie seisoene terug by Loftus Versfeld en hy sal ’n ander dinamika bied. Niemand weet ook wat die Tongaan Nafi Tuitavake in die middelveld gaan oplewer nie.

In die agttal kan die 21-jarige losvoorspeler Muller Uys ook ’n vonds wees.

Pote Human, die hoofafrigter, weet hoe omvangryk die uitdaging is om spelers van Handré Pollard, Jesse Kriel, Duane Vermeulen, RG Snyman en Lood de Jager se kaliber te vervang.

Dít gee hy toe, maar Human weet ook wat die waarde is van spelers wat ywerig is om ’n punt te bewys.

Wat hou 2020 vir Pote Human en sy span in? Foto: Gallo Images

Diepte lol in sekere posisies

Jy kry nie sommer dié tyd van die seisoen ’n afrigter wat verkondig hy is bekommerd oor die diepte in sy groep nie.

So ook het Human die afgelope tyd by meer as een geleentheid gesê dit is nie iets wat hom onrustig laat slaap nie.

Dié weet ons, kan baie gou in Superrugby verander.

Die Bulle het in sekere posisies goeie diepte, maar byvoorbeeld op slot kan dinge gou lol.

Afgesien van aanwinste soos Steyn, Tuitavake, Josh Strauss en Juandré Kruger, is dit grotendeels dieselfde Bulle wat verlede jaar in die Curriebeker-reeks gesukkel het.

Odendaal se deelname in dié kompetisie is vroeg deur ’n besering beëindig en dinge het daarna gou uitgerafel (selfs Griekwas het met 37-15 geseëvier op Loftus).

Gaan dit vanjaar ook in Superrugby die Bulle se struikelblok wees?

Hoe lyk beste beginspan?

Dit is duidelik Human is nog nie seker oor sy beginspan nie.

Op losskakel is Manie Libbok, ná Pollard se vertrek, nou voor in die ry.

Die Bulle speel egter Vrydagaand in Durban teen die Haaie en met die erge humiditeit dié tyd van die jaar het jy ’n ervare losskakel nodig wat takties beheer kan neem.

Dit sal dus ’n verrassing wees as Steyn nie in die Haaitenk begin nie.

Die Bulle se rotasie tussen die Bok-skrumskakels Ivan van Zyl en Embrose Papier was verlede seisoen tot albei se nadeel.

En wie neem by Jesse Kriel oor in die nr. 13-trui – Tuitavake of Cornal Hendricks?

Dit is hoe Bulle-ondersteuners Rosko Specman wil sien: op die aanval. Foto: Gallo Images

Wegspring nie ideaal

Hoewel die kompetisie oor 21 weke beslis word, was ’n goeie begin nog nooit te versmaai nie.

Die Bulle begin egter met wegwedstryde teen die Haaie en die Stormers, waarna hulle reeds die derde naweek ’n loslootjie het.

Dit is allermins ’n ideale wegspring en die Bulle kan vroeg-vroeg onder druk wees.

’n Wegoorwinning sal natuurlik die Pretorianers uit die staanspoor meer selfvertroue gee.

Gaan aanval die wagwoord bly?

Die span het in 2019 gehou by die meer aanvallende benadering wat John Mitchell gevestig het.

Met Hendricks, Tuitavake, Warrick Gelant en Rosko Specman in die agterlyn, behoort die Bulle nie veel hiervan af te wyk nie.

Word Steyn wel op losskakel verkies en die Bulle is onder druk, sal dit interessant wees om te sien of daar nie mettertyd op ’n meer konserwatiewe benadering teruggeval word nie.

Meer oor:  Pote Human  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.