Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle gly ook teen Blues op sopnat Loftus

Die Bulle het ná vier rondes van Superrugby steeds niks om te wys op dié kompetisie se puntelys nie.

Dit sou op ’n nat Loftus Versfeld nooit oortuigend of mooi gewees het nie en die wedstryd was tot heel aan die einde in die weegskaal voordat Otere Black, die besoekers se losskakel, die Bulle met ’n strafdoel die doodskoot gegee het.

Morné Steyn druk Saterdag een van die Bulle se drieë teen die Blues. Foto: Gallo Images

Dit was ’n paar minute vroeër nodig dat Jeandré Rudolph, flank van die Bulle, van die stertkant van ’n skrum doellyn toe kruip om die “wendrie” vir sy span te druk.

Nogmaals was dit ’n kragmeting wat die Bulle moes gewen het.

En anders as met die vorige twee nederlae, was dié nederlaag by die huis teen heel waarskynlik die swakste Nieu-Seelandse span in die kompetisie.

Die Bulle was teen rustyd voor en Pote Human, die Bulle-afrigter, sal weer moet verduidelik dat sy span die geleenthede gehad het om te wen.

Daar sal diegene in Bulle-kontrei wees wat gaan kla dat Marius van der Westhuizen hul span stief behandel het met die twee geelkaarte wat hy in die eerste helfte uit sy sak gepluk het.

Eers was die slot Andries Ferreira aan die ontvangkant vir ’n oortreding by ’n lynstaan nadat die Bulle in die aanloop gewaarsku is oor siniese spel by die afbreekpunte.

Ferreira het skaars sy sit gekry toe sy kaptein, Burger Odendaal, ook gevra is om koers te kies pawiljoen toe.

Odendaal se duikslag op die Blues-vleuel, Emoni Narawa, het met die eerste oogopslag gelyk na ’n handboek-plettervat.

Met die kykweer was dit duidelik Odendaal se skouer het Narawa teen die kop getref.

Was dit nie dat hy gesak het toe Odendaal hom tref nie, sou dit – in die 24ste minuut – die einde van sy wedstryd gewees het.

Van der Westhuizen het 100% volgens die reëls geblaas, maar dit was op die keper beskou nie ’n duikslag wat ’n straf verdien het nie en dit bedreig die fisieke aard van rugby.

Die Bulle se verdediging met 13 spelers op die veld, en die Blues wat vir ’n lank ruk op hul doellyn geboer het, verdien vermelding.

Ná rustyd was daar meer gate in die Bulle-linie en die drieë van Tom Robinson en Stephen Perofeta het die Blues beheer laat neem.

Die Bulle-vleuel Cornal Hendricks het die afgelope paar weke baie kritiek gekry, maar vanaand was hy op sy stukke.

Daar moes bontgestaan word wanneer die oud-Bok die bal onder sy arm gedruk het. Daarvoor is hy as die Speler van die Wedstryd bekroon.

* Puntemakers

Bulle 21 (11): Drieë: Morné Steyn, Jeandré Rudolph. Strafdoele: Steyn (3). Doelskop: Manie Libbok.

Blues 23 (8): Drieë: Mark Telea, Tom Robinson, Stephen Perofeta. Strafdoele: Otere Black (2). Doelskop: Black.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Loftus Vers­Feld  |  Blou Bulle  |  Blues  |  Superrugby  |  Superrugby-Reeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.