SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle kry nuwe kenteken in 2020

’n Nuwe ontwerp, wat die Babertonse madeliefie en die Bulle se tradisionele Superrugby-logo kombineer, sal in 2020 op dié span se truie pronk.

Alfons Meyer, die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se uitvoerende hoof, sê hulle is in die proses om die nuwe handelsmerk te registreer.

Burger Odendaal, Simphiwe Matanzima, Ivan van Zyl en Cornal Hendricks met die Bulle se nuwe Superrugby-trui vir 2020. Foto: Verskaf

Die Bulle het die afgelope twee seisoene – in die Superrugby- en Curriebeker-kompetisie – met ’n Bulle-logo gespeel met die datums 1938-2018 en 1938-2019, ter viering van die unie se 80ste bestaansvieringe.

“Ek hou baie van die nuwe logo. Die madeliefie is sterk tradisie, maar die Bulls-kenteken is net so ’n kragtige handelsmerk.

“Selfs Johann Rupert (van Remgro, wat ’n aandeel van 37% in die BBM het) het op Twitter gesê hy is bly om die madeliefie op die nuwe trui te sien. Ek dink baie ondersteuners gaan daarvan hou.”

Die Bulle se nuwe Superrugby-trui, wat oudergewoonte deur Puma ontwerp en vervaardig is, het ’n besige patroon van Bul-koppe voor en agterop, wat ’n moderne, kontrasterende blou skakering skep.

Daar is jaarliks van die meer konserwatiewe Bulle-ondersteuners wat mor dat Puma te uitspattig is met sy truie en die 2020-weergawe behoort geen uitsondering te wees nie.

Hoewel Puma in ’n verklaring gesê het dié bont trui sal ook in die Curriebeker-reeks gedra word, het Meyer bevestig die span sal in die tradisionele Ligblou-trui met die madeliefie op die bors speel.

Bulle-ondersteuners het nog altyd hul liefde vir die span aan hul kinders en kinders se kinders oorgedra. Dit is meer as om net ’n span te ondersteun. Dit is die ondersteuning van ’n erfenis en nalatenskap.
Brett Bellinger

Die plan was aanvanklik om nie weer vanjaar drie Super-truie te hê nie (tuistrui, wegtrui en Marvel-superheldtrui), maar die Waratahs, wat op 21 Maart in Sydney gasheer speel vir die Bulle, het aangedui dat die spanne se truie te veel ooreenstem.

“Ons moes noodgedwonge ’n derde trui kry, wat nét in daardie wedstryd gedra sal word.

“Dit gaan ’n spesiale en eksklusiewe trui wees wat ons later sal onthul. Ons is van plan om net 2 000 van dié truie te laat maak,” sê Meyer.

Die Bulle sal, soos verlede seisoen, in hul plaaslike derbies in hul Captain America-truie in aksie wees.

Brett Bellinger, Puma se bemarkingsbestuurder in Suid-Afrika, sê hulle het met die nuwe trui nogmaals gefokus op die Bulle se ryke tradisie.

“Bulle-ondersteuners het nog altyd hul liefde vir die span aan hul kinders en kinders se kinders oorgedra. Dit is meer as om net ’n span te ondersteun. Dit is die ondersteuning van ’n erfenis en nalatenskap.”

Die trui is reeds op die winkelrakke en kos R799.

Meer oor:  Super-Truie  |  Blou Bulle Maatskappy  |  Bulle  |  Superrugby  |  Alfons Meyer  |  Bbm
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.