Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle lugtig vir Cheetahs se besoek Saterdag
Die Springbok-stut Trevor Nyakane was Saterdag op sy stukke teen die Jaguares. Foto: Gallo Images

Die Argentynse kat se aanslag is suksesvol afgeweer, maar die Vrystaatse een se naels kan veel skerper wees.

Die Bulle staal hulle vir ’n befoeterde kolkat wanneer daar die naweek op Loftus Versfeld gasheer gespeel word vir die Cheetahs.

Superrugby-oorlewing het duidelik Saterdag in Bloemfontein die Cheetahs aangevuur toe hulle die Chiefs met mening trompop geloop het.

Die Cheetahs het eindelik die pas verslap en 27-41 die aftog geblaas, maar dit is die Curriebeker-kampioen se vuurwarm vertoning in die eerste helfte wat ’n wekroep vir die Bulle is.

Nollis Marais, die Bulle-breier, was duidelik beïndruk met die Cheetahs se aanvanklike aanslag en sê hulle verwag dieselfde Saterdag op Loftus.

Die Cheetahs het baie goed gelyk en ons weet wat kom.
Nollis Marais

“Hulle was briljant in daardie eerste helfte. Die Cheetahs was vinnig 24-0 voor en dit wil gedoen wees teen ’n topspan soos die Chiefs.

“Die Cheetahs het baie goed gelyk en ons weet wat kom,” sê Marais.

Die Bulle sal ’n tweede opeenvolgende tuissege in die visier hê nadat hulle Saterdag die Jaguares met 26-13 getroef het.

Die Cheetahs het die Bulle vroeër in die tweede ronde van die reeks 34-28 in Bloemfontein geklop.

Die Ligbloues moet juis ’n herhaling van die stryd vermy. Die tuisspan was vroeg-vroeg gerieflik voor teen die tyd wat die Bulle ontwaak het.

Die Bulle-kaptein, Adriaan Strauss, sê hulle sal dieselfde intensiteit waarmee hulle met tye teen die Jaguares gespeel het, in die herontmoeting met die Vrystaters “najaag”.

“Dit is iets waarmee ons gesukkel het tot nou toe, maar ek glo die wen sal baie beteken vir ons selfvertroue en die intensiteit waarmee ons speel.

Dit is goed dat al die harde werk op die veld gestalte gekry het.
Adriaan Strauss

“Ons het altyd die selfgeloof gehad dat ons tot veel beter in staat is. Dit is goed dat al die harde werk op die veld gestalte gekry het.”

Die goeie nuus in die Bulle-kamp is dat daar geen beserings is ná Saterdag se stryd nie.

Marais het dit ná afloop van die kragmeting as “die Bulle se bonuspunt” beskryf in die lig van die magdom beserings onder veral sy losvoorspelers die laaste ruk.

Daar word wel verwag dat twee Bokke – Jan Serfontein en Trevor Nyakane – ’n ruskans sal kry die week.

Marais sal in die versoeking wees om met Nyakane te volhard nadat hy ’n stewige skrumvertoning teen die Jaguares gelewer het.

Meer oor:  Nollis Marais  |  Pretoria
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.