Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle moet blitsig kuur vir ou kwaal kry

’n Ongewenste ou kwaal van die Bulle het Saterdag weer kop uitgesteek toe die Jaguares hulle op Loftus Versfeld verras het.

Manie Libbok bespreek vroeër die seisoen taktiek met Handré Pollard toe die Bulle in die Superreeks op Loftus teen die Stormers te staan gekom het. Libbok sê hoewel Pollard hom uit die Bulle se beginspan hou, leer hy baie by die Bok-losskakel. Foto: Gallo Images

Frans Ludeke het aan die einde van sy tyd op Loftus daaroor gekla. So ook sy opvolger, Nollis Marais, en ditto vir John Mitchell, wat die Bulle verlede seisoen in die Superreeks afgerig het.

Pote Human, wat as hoofafrigter by Mitchell oorgeneem het, het dit Saterdag witlynkoors genoem.

“Ons het soveel kanse gehad op die aanval en was ’n paar keer by hul doellyn, maar ons kon nie afrond nie. Jy kan dit nie in die kompetisie bekostig nie,” het Human gesê.

Dít nadat die Bulle tot dusver die seisoen in ’n hele paar wedstryde nie ’n halwe kans nodig gehad het om die doellyn oor te steek nie.

Manie Libbok, wat teen die Jaguares Handré Pollard se leemte op losskakel moes vul, sê geduld en dissipline is die week die twee groot brandpunte in die Bulle-kamp.

Hulle kom Saterdag op Loftus teen die Reds te staan.

“Ons het goeie rugby gespeel en het baie kanse geskep, maar dit help niks as jy dit nie in punte kan omskep nie.

“Hier teen die einde was ons dissipline ook nie goed nie en ons het toegelaat dat die Jaguares wen,” sê Libbok.

Dié skraal losskakel sê daar was nie “dreigemente” in die nadraai van die teleurstellende vertoning nie.

Ons almal weet vir coach Pote is dissipline nie onderhandelbaar nie. Goed soos oortredings by die afbreekpunte en hoogvatte word nie geduld nie.
Manie Libbok

“Ons almal weet vir coach Pote is dissipline nie onderhandelbaar nie. Goed soos oortredings by die afbreekpunte en hoogvatte word nie geduld nie en ons sal moet verbeter in die opsig.

“Daar moet ook meer geduld op die aanval wees. Die gapings sal kom.”

Generaal Pollard. Die Bulle-losskakel Handré Pollard sal vanjaar ’n beduidende rol speel in sy span se Superrugby-veldtog. Foto: Gallo Images

Libbok het al sy talent en vernuf op die aanval onderstreep, tog kan dit nie maklik wees by ’n unie waar Handré Pollard die voorkeur-losskakel is nie.

“Dit is een van daardie dinge. Hy is die Springbok-losskakel.

“Uiteraard wil jy graag soveel moontlik speel, maar dit is ook goed vir my ontwikkeling om onder Handré te speel.

“Ek leer baie by hom en gee alles wanneer ek ’n kans kry. “Jy moet probeer om nie te ver die toekoms in te kyk nie en vir eers is ek dankbaar vir die kans wat ek die naweek gekry het om te begin.

“Ek was tevrede. Die eerste tien minute was ’n bietjie van ’n uitdaging, maar daarna het ek my ritme gevind.”

Die verwagting is dat Pollard en die Boksenter Jesse Kriel terug sal wees in die beginspan vir die kragmeting met die Reds.

Human maak sy span Woensdag bekend.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Handre Pollard  |  Manie Libbok  |  Pretoria  |  Losskakel  |  Rugby  |  Bulle  |  Superrugby  |  Reds
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.