Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle moet doemprofete se monde snoer

Een kyk na die Blues-span wat laat Saterdagmiddag op Loftus Versfeld teen die Bulle in die Superreeks aantree en jy kom tot die slotsom dat die tuisspan veronderstel is om die kitaar te slaan.

Warrick Gelant word in die Bulle se eerste Superrugby-stryd van die seisoen teen die Haaie vasgevat. Hy skuld die Bulle Saterdag een van sy beter vertonings. Foto: Gallo Images

Daar is vanjaar geen Ma’a Nonu en Sonny Bill Williams in die Aucklanders se agterlyn nie, Rieko Ioane is nie oorweeg nie en dié sukkelende franchise se groot hoop vanjaar, Beauden Barrett, is nog met sabbatsverlof.

Voorlangs is daar ’n All Black of drie, maar dit is ’n agttal wat, met alle respek, teen die meeste voorhoedes in die kompetisie tweede sal kom.

Dié amperse meevaller op Loftus plaas die Bulle eintlik onder die vergrootglas én onder meer druk.

Ja, daar was nie veel te kies tussen die Bulle en die Haaie en toe die Stormers in die twee wegwedstryde waarmee Burger Odendaal-hulle hul 2020-veldtog begin het nie.

Maar onteenseglike Bul-gebreke in Durban en Kaapstad is wel blootgelê.

Met Warrick Gelant, Cornal Hendricks en Rosko Specman in die arsenaal, behoort drieë hoegenaamd nie ’n kwelpunt te wees nie.

Daar is egter reeds vrae hieroor en dit is straks ’n geldige punt: Hoe versoenbaar is dié gevaarlike trio met die manne – Johnny Kotze, Odendaal en Morné Steyn – aan hul binnekant?

Wat ook al die wortel van die kwaad is, dinge verloop nog nie vlot in die agterlyn nie.

Gelant byvoorbeeld, is ’n Springbok wat vir ’n slag soos een moet speel, en Hendricks kry Saterdag ’n laaste kans om sy plek in die beginspan te behou.

Steyn bo Manie Libbok op losskakel is ’n moeilike spankeuse.

Die aanduiding is dat daar voor of tydens die wedstryd op Loftus ’n lekker bui reën in Pretoria kan uitsak.

Dan wil jy Mnr. Betroubaar met sy akkurate skopvoet in die nr. 10-trui hê.

Dit gebeur steeds dat die lugdruk ter sprake kom wanneer ’n Nieu-Seelandse span in Gauteng kom besoek aflê.

Die Bulle-breier, Pote Human, het die week in daardie slagyster getrap toe hy gesê het sy span wil die pas versnel wanneer die Kiwi’s se longe in die tweede helfte begin brand.

Daar moet onthou word dat die lugdruk nie veel van ’n bondgenoot was toe die Chiefs die Bulle verlede seisoen 50 punte op Loftus gegee het nie.

Die All Blacks en spanne soos die Crusaders, Hurricanes en die Chiefs het in die onlangse verlede ’n bespotting van die lugdruk-voordeel gemaak.

Human is nietemin vol vertroue dat sy span tuis bedrewe genoeg teen die Blues sal wees.

Want gebeur dit nie, hoor jy al hoe die doemprofete vra wat hom te doen staan as die Bulle nie eens dié Blues op Loftus kan troef nie.

Spanne

Bulle: Warrick Gelant, Cornal Hendricks, Johnny Kotze, Burger Odendaal (k), Rosko Specman, Morné Steyn, Ivan van Zyl, Josh Strauss, Wian Vosloo, Jeandré Rudolph, Juandré Kruger, Andries Ferreira, Trevor Nyakane, Jaco Visagie, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Corniel Els, Gerhard Steenekamp, Wiehahn Herbst, Ruan Nortjé, Ruan Steenkamp, Embrose Papier, Manie Libbok, Divan Rossouw.

Blues: Stephen Perofeta, Emoni Narawa, Joe Marchant, Harry Plummer, Mark Telea, Otere Black, Jonathan Ruru, Hoskins Sotutu, Tony Lamborn, Tom Robinson, Jacob Pierce, Patrick Tuipulotu (k), Sione Mafileo, James Parsons, Karl Tu’inukuafe. PLAASVERVANGERS: Kurt Eklund, Ezekiel Lindenmuth, Ofa Tuungafasi, Aaron Carroll, Dalton Papalii, Sam Nock, TJ Faiane, Matt Duffie.

  • Skeidsregter: Marius van der Westhuizen.
  • Assistent-skeidsregters: Cwengile Jadezweni, Divan Uys.
  • TV-skeidsregter: Joey Klaaste-Salmans.
  • Afskop: 17:15 (SS 1, GDN).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Loftus Vers­Feld  |  Pretoria  |  Blues  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.