Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle moet Rebels se ‘Tier’ bly

Vir Pote Human sal daar in die volgende paar weke verskeie slapelose nagte wees terwyl hy tob oor hoe die Bulle ’n sukses van hul Australasiese toer kan maak.

Nie net sal hulle die volgende vier naweke verbete veg om in die wedloop om ’n plek in die uitspeelrondes te bly nie, maar hulle moet boonop bewys dat hulle nie meer ’n slaansak in die buiteland gaan wees nie.

Paul “Tier” Schoeman sal Vrydag vir die Bulle moet help om op die voorvoet te kom in hul stryd teen die Rebels in Melbourne.Foto: Gallo Images

Warrick Gelant (heelagter) en Hanro Liebenberg (flank) se terugkeer tot die beginspan sal beslis as ’n hupstoot dien, maar die oë sal veral op die 26-jarige Tier Schoeman wees, wat langs Liebenberg in die skrums sal sak.

Schoeman is tot die beginspan bevorder in die plek van die Springbok Marco van Staden en sal hoop op ’n soortgelyke vertoning as die een wat hy in sy span se sege met 32-17 oor die Reds op Loftus gelewer het.

Die Pretorianers is nie bekend vir hul goeie peil in die buiteland nie en vaar tradisioneel swakker oorsee as hul eweknieë van die Haaie, Leeus en Stormers.

Buiten vir die Rebels wat Vrydag in Melbourne op die Pretorianers wag, sal die Bulle volgende week in Canberra teen die Brumbies te staan kom, met die Blues in Auckland en die Highlanders in Dunedin wat daarna volg.

Twee seges in 13 pogings is al wat die Bulle oor dié vier spanne sedert 2009 weg van die huis af kon behaal.

Die laaste hiervan was in 2013, toe hulle die Blues in Auckland met 28-21 getroef het. ’n Jaar vroeër het hulle die Rebels in Melbourne met 41-35 verslaan.

Hulle kon boonop in 2014 laas teen die Brumbies en die Blues koning kraai in Pretoria en het in 2013 laas daarin geslaag om die Highlanders te troef – ook op Loftus.

Nadat die Bulle die afgelope naweek met 45-13 deur die Crusaders van die veld gespeel is, sal daar boonop nie veel momentum wees wat hulle in Vrydag stryd inneem nie.

Daar is darem ook ’n ligpunt in die statistieke vir die Bulle. Dit wys die Rebels is die een span teen wie hulle ’n goeie kans het om op toer te wen.

Die Pretorianers spog met vyf oorwinnings in ses wedstryde teen die manne van Melbourne.

Die Rebels is vanjaar egter ’n sterker span as in vorige seisoene en het trouens ewe veel ligapunte as die Bulle (28).

Die Bulle beklee tans in die tweede plek in die Suid-Afrikaanse groep, met ’n wedstryd minder agter die rug as die Haaie (29). Die KwaZulu-Natallers het egter die naweek ’n loslootjie, wat aan die Bulle ’n gulde geleentheid bied om weer tot in die voorste plek te klim. Die Jaguares (28) is in dieselfde posisie.

Die Argentyne het ook ’n groot taak wat op hulle wag en pak die Hurricanes Vrydag in die Westpac-stadion.

Spanne

Rebels: Dane Haylett-Petty (k), Jack Maddocks, Reece Hodge, Billy Meakes, Marika Koroibete, Quade Cooper, Will Genia, Rob Leota, Richard Hardwick, Luke Jones, Matt Philip, Ross Haylett-Petty, Jermaine Ainsley, Anaru Rangi, Tetera Faulkner. PLAASVERVANGERS: Hugh Roach, Matt Gibbon, Sam Talakai, Sam Jeffries, Pone Fa’amausili, Michael Ruru, Campbell Magnay, Matt To’omua.

Bulle: Warrick Gelant, Cornal Hendricks, Johnny Kotze, Burger Odendaal, Rosko Specman, Handré Pollard (k), André Warner, Duane Vermeulen, Hanro Liebenberg, Paul Schoeman, Jason Jenkins, RG Snyman, Trevor Nyakane, Schalk Brits, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Jaco Visagie, Simphiwe Matanzima, Wiehahn Herbst, Jannes Kirsten, Marco van Staden, Embrose Papier, Manie Libbok, Divan Rossouw.

Skeidsregter: Federico Anselmi (Arg).

Assistent-skeidsregters: Damon Murphy en Aaron Pook (albei Aus).

TV-skeidsregter: Ian Smith (Aus).

Afskop: 11:45 (SS 1 en GDN).

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Rebels  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.