Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle moet waak teen vrygewigheid

’n Bulle-span wat sukkel om agter die doellyn te gaan draai, is nie ’n nuwe kwaal wat kop uitgesteek het nie.

Jaco Visagie behaal Saterdag sy 50-tal vir die Bulle in die Superrugby-kompetisie. Foto: Gallo Images

Met die kollig wat so fel op dié tekortkoming in die Bulle se mondering skyn, het Pote Human, die afrigter, gewaarsku sy spelers moenie dat hul verdediging in die proses agterweë bly nie.

Die Bulle speel Saterdag in die Superreeks tuis teen die Blues en jy wil nie teen ’n Kiwi-span vrygewig wees met jou verdediging nie.

“Ons het die laaste twee weke hard gewerk aan ons aanvallende spel.

“Ons moet eenvoudig ons kanse gebruik. Dit pla almal (die Bulle kon nie een drie in die wegwedstryde teen die Haaie en die Stormers druk nie) en ek hoop dit wys Saterdag.

“Maar ons sal ook baie goed moet verdedig en dit gaan nodig wees dat ons in albei afdelings gedy.”

Daar word reën in Pretoria voorspel Saterdag, wat nie vir een van die spanne goeie nuus sal wees nie.

Dit is waarskynlik ook een van die redes waarom Morné Steyn weer in die opdrafspan is.

Hulle is nie gelukkig met die lugdruk hier bo nie en ons wil teen ’n vinnige pas speel om dit diep in die tweede helfte moeilik te maak vir die Blues.
Pote Human

“Ons sal kyk hoe die weer Saterdag lyk. As die veld nat en die toestande moeilik is, sal daar dalk besluit word om Morné langer op te hou.

“Hy het ons in die wedstryd gehou teen die Haaie, maar as die veld droog is, wat ons hoop die geval is, sal Manie (Libbok) ’n groter rol hê.

“Hy is baie begaafd en verdien ’n kans.”

Human maak geen geheim daarvan nie dat die Bulle die lugdruk as ’n bondgenoot wil gebruik.

“Hulle is nie gelukkig met die lugdruk hier bo nie en ons wil teen ’n vinnige pas speel om dit diep in die tweede helfte moeilik te maak vir die Blues.”

Daar is net een verandering in die beginspan wat teen die Stormers gespeel het – Wian Vosloo neem langs die kant van die skrum by Abongile Nonkontwana oor.

Human het aangedui hy het op Vosloo besluit, want Nonkontwana sukkel met sy spelpeil.

“Ek ken Abo baie goed en rig hom al van junior vlak af. “Hy kan baie beter speel, maar hy het nog nie die oorgang van Pro14-rugby gemaak nie.

“Die pas in Superrugby is vinniger en hy sukkel in die stadium ’n bietjie daarmee.”

Human sê met losvoorspelers soos Marco van Staden, Tim Agaba en Muller Uys, wat almal van beserings herstel het, is daar groot druk op die lostrio wat Saterdag speel, Josh Strauss, Wian Vosloo en Jeandré Rudolph.

Die Bulle-breier sê hulle voel die druk ná die twee nederlae, maar verseker daar is geen paniek nie.

“Dié kompetisie is beslis nie ’n naelloop nie en as ons die volgende drie wedstryde op Loftus (teen die Blues, Jaguares en die Highlanders) kan wen, sal ons met goeie momentum kan gaan toer.”

Die haker Jaco Visagie en Johnny Kotze (buitesenter) sal Saterdag in hulle 50ste wedstryde in die Superreeks speel.

Dit het Visagie (27) ses seisoene geneem om by die mylpaal uit te kom nadat hy lank agter Adriaan Strauss en verlede seisoen Schalk Brits in die ry gestaan het.

Bulle: Warrick Gelant, Cornal Hendricks, Johnny Kotze, Burger Odendaal (k), Rosko Specman, Morné Steyn, Ivan van Zyl, Josh Strauss, Wian Vosloo, Jeandré Rudolph, Juandré Kruger, Andries Ferreira, Trevor Nyakane, Jaco Visagie, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Corniel Els, Gerhard Steenekamp, Wiehahn Herbst, Ruan Nortjé, Ruan Steenkamp, Embrose Papier, Manie Libbok, Divan Rossouw.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Pote Human  |  Loftus Vers­Feld  |  Pretoria  |  Blues  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.