Die Cheetahs het nog hoop om hul slotpaar Sintu Manjezi en Walt Steenkamp te behou, maar Jasper Wiese is verlore.

Sintu Manjezi. Foto: Getty Images
Getty Images
Die Bulle toon belangstelling in die 24-jarige Manjezi, sowel as die 24-jarige Steenkamp met Jake White wat nou aan die stuur is en verstellings aan sy spelerskorps maak.
Manjezi was vroeër in die Westelike Provinsie se visier, maar die Kapenaars het verlede Vrydag op ’n raadsvergadering besluit om alle kontraktering met die oog op 2021, dié van nuwe aanwinste en verlengings, dadelik tot verdere kennisgewing weens onder meer die koronavirus op te skort.
Dit het die hoop laat opvlam dat die Vrystaat Manjezi sou kon behou, maar nou is die Bulle skielik ook ’n rolspeler om vir die Vrystaatse slot te bie.
Manjezi is ’n speler met ’n nasionale kontrak van SA Rugby wat die Bulle se belangstelling in hom verhoog.
Steenkamp is een van die name wat, soos Manjezi, Jason Jenkins, Gerbrand Grobler en Reniel Hugo, by die Bulle genoem word om hul diepte op slot te verbeter, maar daar is ook belangstelling uit die buiteland.

Jasper Wiese
Die 24-jarige Wiese sal nie sy kontrak by die Cheetahs verleng nie. Hy is glo, soos sy spanmaat die haker Joseph Dweba, op pad na Europa.
Dis onseker waar Wiese sy loopbaan sal voortsit, maar Dweba gaan hom later by die Franse klubspan Bordeaux aansluit.
Hawies Fourie het wel daarin geslaag om te verseker dat Junior Pokomela, Ruben de Haas, Marnus van der Merwe, Aidon Davids en Charles Marais deel van die sowat 35 spelers is wat senior professionele kontrakte met die Cheetahs sluit.
Die Cheetahs mag ingevolge SA Rugby se beperking slegs 45 spelers per jaar as ’n franchise kontrakteer. Al manier hoe die Vrystaters binne hul eie begroting kan bly en steeds spelers van gehalte behou, is om minder spelers te kontrakteer.
Dit lyk tans of die Cheetahs net 35 spelers sal kontrakteer, waaronder Carl Wegner, Andisa Ntsila en Frans Steyn ook kan tel as onderhandelinge met hulle suksesvol verloop.
Pokomela, Van der Merwe, Davids en Marais het hul kontrakte tot 31 Oktober 2022 verleng.