Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle-ondersteuners glimlag weer

Ná al die drankies wat die Bulle die afgelope 18 maande vir hul ondersteuners na asyn laat proe het, is John Mitchell verheug sy troepe kon Saterdag ’n menigte Pretorianer na vonkelwyn laat gryp.

Warrick Gelant, die Bulle se heelagter, het Saterdag in Durban ’n uitstekende wedstryd gespeel. Foto: Gallo Images

Mitchell, die Bulle-breier, het ná sy span se Superrugby-sprankelsege van 40-10 oor die Haaie in Durban gesê hy glo die Lofus-brigade begin met nuwe oë na die span kyk.

“Ons begin nou om die harte van ons ondersteuners terug te wen. Dit is belangrik, want hulle het baie opofferings gemaak en deur swaar tye gegaan,” het Mitchell ná die stryd gesê.

“Dit is belangrik dat ons iets groter as onsself (naamlik die ondersteuners) dien. As ons kan aanhou om te veg en met dié gees te speel, sal ons ons ondersteuners trots maak.”

Die Bulle se kleitrappery in verlede jaar se reeks het vele ondersteuners se gemoedstoestand goed opgefoeter. Een kalant wat nie net Bulle-liefhebbers nie, maar die hele Suid-Afrikaanse rugbypubliek sou laat bokspring met sy spel, is die heelagter Warrick Gelant.

Gelant het ’n driekuns aan drieë behaal.

“Warrick het ’n uitstekende week van voorbereiding gehad. Hy is op ’n baie goeie plek op die oomblik en hy was briljant vandag,” sê Mitchell.

“Soos baie jongmans wat van tyd tot tyd verskillende tipes druk beleef, was hy ook deur ’n paar rowwe vertonings terwyl hy probeer het om sy beste spelpeil te herwin.

“Hy het weer na sy ou self op sy eie speelgrond gelyk vanaand (Saterdag). Dit was goed om hom so te sien.”

Dit gebeur selde dat ’n span in sy eerste wedstryd ná ’n loslootjie só goed vertoon, maar die breier meen die blaaskans was goed vir sy troepe.

John Mitchell, die Bulle se hoofafrigter. Foto: Gallo Images

“Die ruskans het op ’n goeie tyd gekom. Ons het van ’n toer teruggekom en dit was belangrik dat die ouens fisiek en geestelik uitrus. Ons benader dit steeds week vir week.”

Hy wil dinge egter nie te ver vooruitloop nie.

“Ons benader dinge maar steeds week vir week, maar ten minste begin ons ’n bloudruk sien waarin ons vertroue het.

“Die reeks is nou agt weke diep, so ons het ongelooflik baie data van al die spelers. Die beplanning sal dus baie individueel op die spelers gerig wees.”

Tog is daar baie vir Bulle-geesdriftiges om na uit te sien, want Mitchell wil nóg meer aan die span se aanvallende spel slyp.

“Een gebied waarin ons wil groei, is dat ons ons aanvallende spel meer wil voed uit die harde werk wat die verdediging insit.

“Ons het in ons afweek gesit en kyk waar ons meer geleenthede kan kry uit omgekeerde besit en waar ons beter kan wees in die oorskakeling van verdediging na aanval. Daar was (Saterdagaand) ’n paar goeie voorbeelde daarvan.”

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Haaie  |  Bulle  |  Robert Du Preez  |  Superrugby  |  John Mitchell
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.