Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle ruk sege voor Leeus se neus weg

Altesame 75 punte en 11 drieë in ’n wedstryd wat agt keer ’n nuwe voorloper gehad het.

Dit is in ’n neutedop die verhaal van die Bulle en die Leeus se superheld-opwarmstryd in die FNB-stadion.

Divan Rossouw, veelsydige agterspeler van die Bulle, druk Sondag een van sy twee drieë teen die Leeus in die FNB-stadion. Foto: Gallo Images

Dat die Bulle met 40-35 geseëvier het nadat die Leeus teen rustyd in beheer was, is nogmaals nie ’n betroubare rigtingwyser nie.

Tog sou die vertoning albei spanne se ondersteuners opgewonde gelaat het.

Daar was – soos dit gewoonlik hierdie tyd van die jaar gaan – aan weerskante hanteerfoute en swak besluitneming.

Elton Jantjies, die Leeus se leier, was skitterend op dreef en sy afwesigheid was dadelik duidelik toe hy in die tweede helfte vervang is.

Hy sal vanjaar verreweg die Leeus se belangrikste speler wees.

’n Oud-Bul Dan Kriel het die Leeus-hoofstuk van sy loopbaan in die sewende minuut met ’n drie gevier ná sy kaptein hom met goeie tydsberekening doellyn toe gestuur het.

Die senter Duncan Matthews, wat ook nog tot verlede seisoen sy salaris by Loftus Versfeld verdien het, het daarna twee keer gaan afrond.

Sy tweede drie was egter omstrede.

Die assistent-skeidsregter Divan Uys het vroeër in die beweging sy vlag opgesteek toe die Leeus-vleuel Jamba Ulengo langs die kantlyn af is.

Uys het ’n oomblik later sy vlag laat sak en die drie is toegeken.

Die Bulle het voor rustyd te dikwels in die Leeus se kwartgebied gekom sonder om punte aan te teken.

Dat die Leeus boonop kwaai onder die skeidsregter Rasta Rasivhenge se fluitjie deurgeloop het, het nie teen rustyd op die telbord gewys nie (21-14 in die Leeus se guns).

In die Bulle-kamp sou daar aanvanklik kommer gewees het oor die Springbok-heelagter Warrick Gelant se besering.

Hy is in die eerste helfte met ’n draagbaar van die veld ná ’n harde kopstamp teen Jantjies se heup, maar die aanduiding is dat hy beskikbaar sal wees wanneer die kompetisie oor twee weke begin.

Die Bulle se proefneming met Cornal Hendricks op buitesenter het vrugte afgewerp.

Hendricks was lus vir hardloop en het die Leeus aan die raai gehou op die aanval, maar ’n liederlike aanslaan met ’n oop doellyn voor hom het sy span so byna in die 75ste minuut van die wendrie ontneem.

Gelukkig vir Hendricks het die Leeus in die volgende beweging die bal roekeloos op hulle doellyn geslinger en kon hy met dié pasella-besit die deurslaggewende punte aanteken.

Puntemakers:

Leeus 35 (21). Drieë: Dan Kriel, Duncan Matthews (2), Courtnall Skosan, Morné van der Berg. Doelskoppe: Elton Jantjies (5).

Bulle 40 (14). Drieë: Abongile Nonkontwana, Johnny Kotze, Manie Libbok, Divan Rossouw (2), Cornal Hendricks. Doelskoppe: Morné Steyn (2), Chris Smith (3).

Meer oor:  Superheld-Sondag  |  Leeus  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.