Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle se ‘kruispad-stryd’ g’n cliché
Johnny Kotze kombineer Saterdag op Loftus met ’n onbekende faktor, die Tongaan Nafi Tuitavake, in die Bulle se middelveld.Foto: Gallo Images

Om te voorspel ’n span is voor ’n kruispad-stryd, is in die meeste gevalle niks meer as ’n deurgetrapte cliché nie.

Ditto om te verkondig die span speel in sy belangrikste wedstryd van die seisoen.

Tog kan die Bulle se ontmoeting in die Superreeks met die Jaguares Saterdag op Loftus Versfeld ’n omvangryke impak op die tuisspan se paadjie vorentoe hê.

Soos sake daaruit sien, lyk dinge nie goed vir die Bulle nie.

Ná Saterdag kom die Highlanders op Loftus draai, voor die Bulle se toer Doer Onder aanbreek.

As die Bulle met vyf nederlae op die vliegtuig klim, sal dit ’n verdoemende vooruitsig wees.

Dit is nie dat die Pretorianers tot dusver skandes maak nie, maar die span het in sy eerste drie wedstryde in die kompetisie nog elke keer ’n manier gevind om nie te wen nie.

Selfs uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt sal ’n Bulle-sege ’n positiewe wending wees.

Selfs uit ’n Suid-Afrikaanse oogpunt sal ’n Bulle-sege ’n positiewe wending wees.

Dit is juis in Suid-Afrika waar die Jaguares se selfvertroue in 2019 die hoogte in geskiet het met oorwinnings oor die Bulle en die Haaie.

Die Jaguares het uiteindelik die Suid-Afrikaanse afdeling gewen en in die eindstryd gespeel.

Die Bulle was verlede seisoen in die ooreenstemmende wedstryd nog met 20-10 voor in die 72ste minuut, maar het minute later verslae toegekyk hoe die Argentyne ’n eerste sege ooit in die reeks op Loftus vier.

Die Bok Trevor Nyakane, kaptein van die Bulle. Foto: Gallo Images

Is dit dan – met die Jaguares wat in vier uit ses ontmoetings aan die wenkant was teen die Bulle sedert 2016 – wensdenkery om hoop te hê vir Trevor Nyakane-hulle?

Die Jaguares kom darem vanjaar sonder verskeie ervare Poemas soos Pablo Matera, Agustín Creevy, Matias Orlando, Joaquín Tuculet, Tomás Lavanini en Javier Ortega Desio in Pretoria aan.

Pote Human, die tuisspan se afrigter, sal eerstens onrustig wees oor die Bulle se vertoning in die middelveld sonder Burger Odendaal, die kaptein.

Nafi Tuitavake is ’n man met toetservaring, maar presies wat hy die Bulle in sy debuutstryd kan bied, is ’n ope vraag.

Hy en Johnny Kotze kom boonop teen Jeronimo de la Fuente, die Jaguares-kaptein, en Matias Moroni, wat tussen hulle naby aan 100 toetse vir Argentinië gespeel het, te staan.

Die Jaguares spel ook in die lynstane gevaar.

Hulle het, volgens Sanzaar-statistieke, al 108 m gerolmaal vanaf lynstaanbesit, wat dubbel so ver is as enige ander span in die kompetisie.

Die kolkatte van Buenos Aires se opbrengs in die afdeling (lynstaan-rolmale) is reeds vyf drieë.

Human is oortuig die Bulle is ’n beter span as wat die puntelys aandui.

Dit is tyd om die daad by die woord te voeg.

Die spanne is:

Bulle: Warrick Gelant, Cornal Hendricks, Nafi Tuitavake, Johnny Kotze, Rosko Specman, Morné Steyn, Embrose Papier, Jeandré Rudolph, Josh Strauss, Marco van Staden, Juandré Kruger, Andries Ferreira, Trevor Nyakane (k), Jaco Visagie, Lizo Gqoboka. PLAASVERVANGERS: Corniel Els, Gerhard Steenekamp, Wiehahn Herbst, Ruan Nortjé, Ruan Steenkamp, Ivan van Zyl, Manie Libbok, Divan Rossouw.

Jaguares: Santiago Carreras, Sebastian Cancelliere, Matias Moroni, Jeronimo de la Fuente (k), Emiliano Boffelli, Joaquin Diaz Bonilla, Gonzalo Bertranou, Rodrigo Bruni, Tomas Lezana, Francisco Gorrissen, Marcos Kremer, Guido Petti, Joel Sclavi, Julian Montoya, Nahuel Tetaz Chaparro. PLAASVERVANGERS: Santiago Socino, Mayco Viyas, Santiago Medrano, Lucas Paulos, Bautista Pedemonte, Domingo Miotti, Juan Cruz Mallia, Santiago Chocobare.

Skeidsregter: Ben O’Keeffe (NS).

Assistent-skeidsregters: AJ Jacobs (SA), Griffin Colby (SA).

TV-skeidsregter: Marius Jonker (SA).

Afskop: 17:15 (SS 1, GDN).

 

Meer oor:  Pote Human  |  Trevor Nyakane  |  Pretoria  |  Jaguares  |  Loftus  |  Rugby  |  Keerpunt  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.