Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle slaag ‘massiewe karaktertoets’
Josh Strauss was Saterdag voortreflik vir die Bulle teen die Highlanders. Hy het die bal sterk gedra en het sy span telkens oor die voordeellyn gekry. Foto: Gallo Images

Pote Human het sy Bulle geloof vir hulle durf, geesdrif en gesindheid wat hul die afgelope ruk gewys het.

Hy het Saterdagaand gesê dit was ’n kombinasie van dié faktore wat sy span aangevuur het om die Highlanders in die Superreeks op Loftus Versfeld met 38-13 af te stof.

Die vertoning verlig die druk op die Bulle nadat hulle hul eerste vier wedstryde in die kompetisie verloor het.

“Ek haal my hoed af vir die spelers. Dit was vier harde weke, maar die ouens het bymekaar gebly en het nooit gaan lê nie.

“Dit is maklik om uitmekaar te spat as jy vier op ’n ry verloor, maar die spelers het vanaand (Saterdag) vir mekaar en die Bulle-trui gespeel.

“Dit was ’n massiewe karaktertoets en ek kon nie vir meer gevra het as die geesdrif en hart waarmee hulle teruggeveg het nie.”

Human was veral tevrede met die nuwelinge in die beginspan, Manie Libbok, Muller Uys, Ruan Nortjé en Ian Groenewald.

Uys en Groenewald het albei hulle debuut in Superrugby gemaak.

“Hulle het die span nuwe energie gegee en ek het gedink Manie was uitstaande op losskakel.

“Ruan Nortjé was die eerste keer in beheer van ons lynstane en hy was fenomenaal. Hy het baie druk op hulle lynstane geplaas.”

Die Bulle se oorheersing in die tweede helfte – nadat die Highlanders teen rustyd met 10-5 voor was – was indrukwekkend.

Die Kiwi’s is voos geskrum en die Bulle het al meer momentum op die voordeellyn gekry.

Dit het die agterste trio, Warrick Gelant, Cornal Hendricks en Rosko Specman, ruimte en hardloopkans gegee.

Ek het egter baie vertroue in die spelers en in Trevor (Nyakane) en Burger om die manne nader aan mekaar te bring.
Pote Human

Hulle het nie op hul laat wag nie en het saam ’n stewige oes van vyf drieë gedruk, wat ’n driekuns vir Specman ingesluit het.

* Die gereelde kaptein, Burger Odendaal, is ingesluit in die toergroep wat Maandagmiddag na Australasië vlieg.

Human het bevestig dat dié ervare binnesenter weer die span sal aanvoer nadat hy die laaste twee wedstryde weens ’n enkelbesering misgeloop het.

Daar is wel kommer oor die Tongaan Nafi Tuitavake, wat Saterdag ’n kniebesering opgedoen het.

As hy nie saam kan toer nie, sal Franco Naudé hom in die groep vervang.

Human het verras deur die ervare Bok-slot Juandré Kruger en Andries Ferreira oor die hoof te sien.

Die Bulle speel die volgende maand teen die Reds, Waratahs, Hurricanes en die Chiefs.

“Ons weet dit gaan nie ’n maklike toer wees nie. Die Reds het amper die Crusaders gestamp gister (Vrydag in Christchurch).

“Ek het egter baie vertroue in die spelers en in Trevor (Nyakane) en Burger om die manne nader aan mekaar te bring.”

Die toergroep is:

Agterspelers: Warrick Gelant, Divan Rossouw, Cornal Hendricks, Burger Odendaal (k), Nafi Tuitavake/Franco Naudé, Johnny Kotze, Rosko Specman, Manie Libbok, Morné Steyn, Embrose Papier, Ivan van Zyl, Marco Jansen van Vuren.

Voorspelers: Muller Uys, Josh Strauss, Marco van Staden, Ruan Steenkamp, Ryno Pieterse, Ruan Nortjé, Ian Groenewald, Trevor Nyakane, Lizo Gqoboka, Gerhard Steenekamp, Wiehahn Herbst, Dayan van der Westhuizen, Jaco Visagie, Corniel Els, Louis van der Westhuizen.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae



Meer oor:  Toer  |  Pote Human  |  Highlanders  |  Bulle  |  Superrugby  |  Loftus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.