Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Bulle steur hul nie aan doemprofete

Die jong Bul-stut Simphiwe Matanzima het ’n sterk vermoede wat Superrugby vanjaar vir hom inhou.

Simphiwe Matanzima was verlede seisoen ’n waardevolle impakspeler vir die Bulle. Foto: Gallo Images

Hy was verlede seisoen skaars mondig toe Pote Human, hoofafrigter van die Bulle, hom onverwags op die plaasvervangersbank gekies het.

Dié boorling van Queenstown en kleinseun van die oudpresident van die Transkei, wyle Kaiser, het verras met sy sterk skrumwerk en vurige spel in die vaste los.

Hy het nie toegelaat dat sy geharde en meer ervare teenstanders hom intimideer nie.

Vanjaar sal dit ’n ander storie wees, weet hy.

“Ek dink die tweede seisoen is altyd taaier – en daarmee sê ek nie dit was maklik verlede jaar nie. Die teenstanders weet nou wat om van ’n ou te verwag en hulle het teen my geskrum,” sê hy.

“Die uitdaging is om te bou op verlede jaar en te verbeter. Maar ja, ek weet die manne sal kom vir my. Ek sal beslis beproef word en dit is iets waarna ek uitsien.”

Matanzima is dalk in die beginspan wanneer die Bulle op 31 Januarie in die openingsronde van die reeks teen die Haaie in Durban te staan kom. ’n Kniebesering sal in alle waarskynlikheid die Springbok Lizo Gqoboka uit die wedstryd hou.

“Ek het al so baie by Lizo, Trevor (Nyakane) en Daan (Human, die Bulle se skrumafrigter) geleer. Hul mentorskap beteken geweldig baie en speel ’n massiewe rol in my ontwikkeling,” sê Matanzima.

“Dit is ’n gesonde omgewing en ons (stutte) druk mekaar. Ek sal iewers moet wys ek kan ’n tree hoër gee.”

Ek sal beslis beproef word en dit is iets waarna ek uitsien.
Simphiwe Matanzima

Hy sê die Bulle steur hulle nie aan voorspellings wat gemaak word deur doemprofete wat verkondig dat ’n sukkelseisoen die span se voorland is nie.

“Jy moet beheer wat jy kan en vir ons is dit belangrik om nie verder te kyk as die eerste wedstryd nie. Dit is ’n wedstryd-vir-wedstryd-benadering. Ons het ’n goeie voorseisoen gehad en ons voorbereiding is deeglik.”

Die Bulle se skrumwerk was in 2019 aansienlik beter in die Superreeks en die Humans, Pote en Daan, sal hoop om vanjaar daarop voort te bou.

Sou Nyakane (kuit) ook nie Sondag in die FNB-stadion teen die Leeus kan speel nie, behoort Matanzima en Wiehahn Herbst die stutte in die beginspan te wees.

Pote Human het Saterdag ná die Bulle se oefenwedstryde teen die Tukkies gesê hy sal sy sterkste moontlike span vir die superheld-buurmanstryd kies.

Daar behoort nie veel verrassings in die agterlyn te wees nie, maar Human se agttal sal verskeie nuwe gesigte hê.

Meer oor:  Pote Human  |  Simphiwe Matanzima  |  Lizo Gqoboka  |  Trevor Nyakane  |  Bulle  |  Superrugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.