Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Burger ‘wil veg vir sy plek’ by Bulle

Daar is belangstelling by die Leeus en ’n loopbaanskuif Japan toe is ook ’n oorweging, maar Burger Odendaal sal verkies om by die Bulle te bly en te veg vir sy plek in die span.

So sê Gert van der Merwe, Odendaal se agent.

Burger Odendaal, kaptein van die Bulle, herbesin oor sy loopbaan. Foto: Gallo Images

Dit is geen geheim meer nie dat Odendaal, wat vanjaar die Bulle in Superrugby gelei het, nie meer in aanvraag is nadat Jake White as die span se direkteur van rugby aangestel is nie.

Van der Merwe het Maandag bevestig daar was derhalwe die laaste ruk gesprekke met die Leeus.

“Ons het al met die Leeus gesels en dit lyk asof daar belangstelling is. Om in Japan te gaan speel, is ook ’n opsie.

“Ek sal hom waarskynlik moet ompraat, want as dit van Burger afhang, bly hy by die Bulle om Jake tot ander insigte te probeer bring.

“Hy sal veg vir sy plek in die span. Daar sal seker so binne die volgende twee weke besluit word oor die pad vorentoe.”

White het aangedui dat die 27-jarige Odendaal se kontrak, wat vroeër dié jaar hernieu is, te duur is vir die Bulle.

White wil glo eerder met die jong manne begin bou vir die toekoms.

Odendaal, wat die Leeus op skolevlak verteenwoordig het, het in 2015 sy buiging in Superrugby gemaak en sy ervaring is ’n groot bate in die Bulle-agterlyn.

Dié klipharde senter speel reeds sedert 2012 sy rugby in Pretoria.

Besluit hy wel om aan te beweeg, sal dit die Bulle sonder enige erkende senters laat.

Johnny Kotze het onlangs by die Shimzu Blue Sharks in Japan geteken en die Tongaan Nafi Tuitavake is terug in Nieu-Seeland, nadat hy van sy kontrak vrygestel is.

Daar is ’n groot groep talentvolle senters soos Franco Naudé, Dawid Kellerman, Diego Appollis, Marnus Potgieter, Stedman Gans en Jay-Cee Nel by die Bulle, maar net Naudé het Superrugby-ervaring.

Van der Merwe, ook Bongi Mbonambi se agent, sê intussen ’n berig in Rapport dat dié Bok-haker van die Stormers die Bulle genader het, is nie akkuraat nie.

“Bongi is baie gelukkig in die Kaap en daar is ’n goeie verhouding tussen hom en John Dobson (die Stormers se afrigter).

“Bongi kan enige aanbiedinge oorweeg, maar die Bulle sal hom baie moet bied voordat hy by die Stormers sal weggaan,” sê Van der Merwe.

White-hulle het wel daarin geslaag om die oud-Bul Travis Ismaiel te kontrakteer.

Dié vleuel, met een toets agter sy naam, sal van 1 Julie weer ’n Bul wees nadat hy aan die einde van 2018 vort is London Harlequins toe.

Meer oor:  Burger Odendaal  |  Leeus  |  Bulle  |  Superrugby  |  Japan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.