Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Uzair Cassiem vir maand op krukkelys

Die Cheetahs het nog twee groot terugslae beleef met die nuus dat die Springbokflank Uzair Cassiem én die stut Ox Nche nie vir die Superrugby-wedstryd teen die Sunwolves Saterdag in Bloemfontein oorweeg kan word nie.

Niell Jordaan dop hier vir Dries Swanepoel om. Foto: Gallo Images

Cassiem gaan trouens tot ’n maand lank op die krukkelys wees met sy kniebesering.

Die twee, wat vandeesweek die eerste Bok-oefenkamp in Johannesburg moes bywoon, sluit hulle aan by die slot Reniel Hugo wat die res van die reeks ook weens ’n kniebesering gaan misloop.

Die afrigter Franco Smith het bevestig dat die kniebesering wat Cassiem teen die Bulle Saterdag in Bloemfontein opgedoen het hom “ten minste drie tot vier weke uit aksie gaan hou.

“Dis slegte nuus vir ons is so saam met Reniel se storie. Cassiem het ’n graad 2-skeur aan sy ligamente opgedoen.

“Ox sit op sy beurt met ’n graad 1-skeur. Hy gaan tien dae uit wees, hopelik minder. Sy kniebesering is nie so ernstig nie, maar hy gaan beslis nie die naweek oorweeg word nie,” het Smith gesê.

Dit beteken dat daar minstens drie veranderinge Saterdag in die Cheetahs se agttal gaan wees.

Cassiem is die afgelope Saterdag in die 37ste minuut vervang deur Niell Jordaan wat weer met sy goeie verdediging beïndruk het.

Jordaan, wat agtsteman gaan speel het, is meer as ’n waardige plaasvervanger.

Boom Prinsloo was ook Saterdag een van die losvoorspelers op die plaasvervangersbank.

Nche, wat teen die Bulle die eerste keer die seisoen die beginspan se loskop was, is net voor die einde beseer.

Hy is verkies bo Charles Marais wat in die eerste wedstryd teen die Leeus begin het.

Die beseringslys ná die spogsege teen die Bulle kan vandeesweek nog groei.

Smith het gesê hulle sal eers later ’n besluit neem oor die senterpaar wat ook van die veld af is.

Clinton Swart het ’n rib gebreek, terwyl Nico Lee las van sy skouer het.

Smith het gesê die senters Francois Venter en William Small-Smith asook die vleuel Sergeal Petersen kan dalk na nog ’n week of wat weer in aanmerking kom.

Die Cheetahs is ook nog sonder hul eerste keuse op skrumskakel, Shaun Venter, wat tydens ’n oefening voor die begin van die reeks ’n dyspierbesering opgedoen het.

Soos sake nou staan, sal daar Saterdag net ses spelers in die beginspan wees wat verlede seisoen ook opgedraf het toe die Cheetahs ’n wegholsege van 92-17 oor die Sunwolves in Bloemfontein behaal het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.