Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Cheetahs wil nog nie byt aan Europese opsie

Moontlike deelname aan ’n Europese rugbyreeks sou vir die Cheetahs en Kings kon wink indien hul deelname aan Superrugby weens die weglating van twee Suid-Afrikaanse spanne inderdaad in die slag bly.

Tony McKeever het voorgestel die Cheetahs en Kings word deel van die Europese Pro12 kompetisie.Foto: Mlandeli Puzi

Só meen ’n omstrede voormalige Oos-Kaapse rugby administrateur, Tony McKeever, wat sê hy het selfs al gepraat met die uitvoerende hoof van die Noordelike Halfrond se Pro12-reeks, wat die Suid-Afrikaanse spanne sou verwelkom.

Oor dié moontlikheid en oor ’n verwagte hofsaak oor hul Superrugby-status wou die Cheetahs op dié strategiese tydstip in hul oorlewingsveldtog nie te veel verklap nie.

Ter reaksie op ’n navraag hieroor wat aan die Cheetahs gerig is, het hulle in ’n verklaring in min woorde hul stryd om deel van die Superrugby-reeks te bly bevestig. Sou dit misluk, is ander moontlikhede nie uitgesluit nie.

“Die Cheetahs se volle aandag, energie en fokus is tans op die behoud van sy posisie in die Super 18 reeks in belang van ons sport rugby in sentraal Suid-Afrika.

“Alle moontlikhede sal egter altyd oorweeg en ondersoek word ten einde die volhoubaarheid van rugby in sentraal Suid-Afrika te behou en te bevorder,” lui die verklaring.

McKeever het aan Sport24 gesê hy meen die Cheetahs en Kings moet hulle beywer daarvoor om te gaan deelneem aan die Pro12-kompetisie, waarin streekspanne van Ierland, Italië, Skotland en Wallis speel.

McKeever het self reeds met Pro12 se uitvoerende hoof, Martin Anayi, gepraat.

“Met die grootte van die huidige Curriebeker- en Superrugby-groepe, kan die Cheetahs en Kings maklik by dié skedule hou en al in September 2017 begin speel,” sê McKeever.

Volgens hom het hy reeds aan Anayi voorgestel dat dié twee spanne opgeneem word en die toernooi dan as die Pro14 herbemark word.

“Martin is ’n man met visie wat die Pro12 na nuwe markte, TV-gehore en toeskouers wil uitbrei.”

McKeever sê verder dit sou die toekoms van rugby in Suid-Afrika bepaal en dat dit gepas is as die Cheetahs en OP Rugby die baanbrekers sou wees.

Hy meen beslis Harold Verster, uitvoerende beampte van die Vrystaat Cheetahs en Rory Duncan, direkteur van rugby, voel ook so.

Die Cheetahs het met hul verklaring volstaan.

Die onsekerheid spruit uit Sanzaar, beheerliggaam van die Superrugby-reeks, se besluit om die aantal spanne aanstaande jaar van 18 na 15 te besnoei. Twee Suid-Afrikaanse spanne en een Australiese span bly in die slag.

’n Struikelblok vir McKeever se voorstel sou wees dat die Pro12-kompetisie bots met die Curriebeker-reeks wat gewoonlik in Augustus begin.

  • Rapport het Sondag berig die Cheetahs gaan hulle tot die hof wend in ’n poging om in die Superreeks te bly.

Daar is berig hulle het reeds ’n senior advokaat geraadpleeg om die geldigheid van hul Saru-kontrak te toets. Dié deelnamekontrak bepaal dat die Cheetahs tot 2020 deel van die Superreeks is.

Die mening is dat Sanzaar ingevolge die kontrak die formaat van die reeks kan wysig, maar nie die reg het om spanne deelname te ontsê nie.

Meer oor:  Cheetahs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.