Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Chiefs, Hurricanes deel louere
Damian McKenzie duik Vrydag oor die doellyn vir een van die Chiefs se drieë teen die Hurricanes. Foto: Getty Images

Dit was nou wel nie ’n oorwinning nie, maar die Chiefs het eindelik hul streep nederlae tot ’n einde gebring.

Ná vier agtereenvolgende nederlae in die Superrugbyreeks het die Chiefs Vrydag met 23-23 teen die Hurricanes in Hamilton gelykop gespeel.

Die gelykopuitslag beteken ook dat die Hurricanes nog steeds net een keer in hul afgelope 10 wegwedstryde teen die Chiefs kon wen.

“Hierdie was darem ’n stap in die regte rigting,” het Brodie Retallick, die Chiefs se kaptein, gesê.

“Ons het wel nog steeds te veel in ons eie gebied gespeel, maar wanneer ons naby hulle doellyn gekom het, het ons darem punte gekry.”

Ngani Laumape het in sy 50ste wedstryd vir die Hurricanes nie veel hardloopkans gekry nie. Foto: Getty Images

Dane Coles, die Hurricanes se kaptein, het toegegee dat hy “gefrustreerd” met die uitslag was.

“Ons het ons kanse gehad, maar het te veel foute gemaak,” het hy gesê.

Die Chiefs, wat in spesiale truie wat hul 1996-span herdenk het gespeel het, was met die rustyd met 20-13 voor.

Hulle kon sommer vroeg selfvertroue put uit ’n drie wat hul een senter, Anton Lienert-Brown, gedruk het.

Lienert-Brown het ’n skop van die Hurricanes-heelagter, Chase Tiatia, afgestorm en weer die bal in die hande gekry om deur te nael.

Die twee spanne het voor die afskop ’n oomblik van stilte gehandhaaf om hul medelye aan diegene wat familie of vriende in die skietery in Christchurch verloor het. Foto: Getty Images

Tiatia was, terloops, een van sy span se uitblinkers op die aanval.

Hy het onder andere Wes Goosen, die linkervleuel, se drie met ’n praglopie aangevoer.

Dit was goed om te sien hoe albei spanne in die doodsnikke, met die telling gelykop, alles in die stryd gewerp het om ’n oorwinning te behaal.

Dit was dalk nie tegnies ’n puik wedstryd nie, maar albei spanne het met baie passie gespeel.

Die Chiefs se agttal verdien ook vermelding vir hul goeie skrumwerk.

* Puntemakers:  

Chiefs 23 (20): Drieë: Anton Lienert-Brown, Damian McKenzie. Doelskoppe: McKenzie (2). Strafdoele: McKenzie (3).

Hurricanes 23 (13): Drieë: Matt Proctor, Wes Goosen. Doelskoppe: Beauden Barrett (2). Strafdoele: Beauden Barrett (2), Jordie Barrett.

Superrugby-bepalings

Superrugby-puntelyste

Superrugby-uitslae

Meer oor:  Superrugby  |  Hurricanes  |  Chiefs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.