Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Coetzee kan Notshe se WB-ambisies knou
Jaco Coetzee se uithalerspel is vir die Stormers ’n ligpunt in wat tot dusver ’n teleurstellende Superrugby-veldtog is.Foto: Getty Images

Jaco Coetzee se goeie spelpeil as die Stormers se agtsteman in die Superrugby-reeks dreig om Sikhumbuzo Notshe se Springbok-ambisies vir die Wêreldbeker-toernooi ’n knou toe te dien.

Notshe gaan na verwagting later vandeesmaand sy terugkeer van ’n skouerbesering vir die Stormers maak, maar in sy afwesigheid was Coetzee se spel ’n ligpunt in ’n span wat grootliks teleurgestel het.á

Juarno Augustus is ook nog daar, maar Coetzee se kraglopies en bedrywige spel het hom sy neus laat voorkry in die wedloop om die nr. 8-trui. Dis egter nie buite die kwessie dat hy op flank gekies sal word vir Vrydag se wedstryd teen die Rebels in Melbourne nie, want die kaptein, Siya Kolisi, rus vandeesweek. In daardie geval sal Augustus waarskynlik die agtsteman en Notshe ’n senuweeagtige TV-kyker wees.

“Of ek as ’n nr. 6-flank of agtsteman speel, maak nie vir my saak nie,” het Coetzee in ’n onderhoud uit Melbourne gesê.

Ek was ’n paar seisoene gelede al baie ontvanklik vir geleenthede om nr. 6 te speel, omdat Suid-Afrika soveel goeie agtstemanne het.
Jaco Coetzee

“Ek was ’n paar seisoene gelede al baie ontvanklik vir geleenthede om nr. 6 te speel, omdat Suid-Afrika soveel goeie agtstemanne het. Ek moes veral hard werk aan my spel op die grond.”

Volgens Coetzee is die mededinging om die Stormers se nr. 8-trui “taai”, maar daar is “wedersydse respek” tussen hom, Augustus en Notshe.

Juarno Augustus gaan dalk weer die Stormers se agtsteman wees in Vrydag se wedstryd teen die Rebels in Melbourne.Foto: Getty Images
Die Springbok Sikhumbuzo Notshe kan sukkel om die Stormers se nr. 8-trui syne te maak wanneer hy van sy skouerbesering terugkeer.Foto: Getty Images

“Trokkie (Augustus) is ’n baie sterk baldraer en Notshe ook baie goed. Daar is nie kwade gevoelens tussen ons nie. Ons is hier om mekaar te help om te verbeter, nie om mekaar op te keil nie,” sê hy.

Coetzee sê hy “kyk op” na Kolisi, maar dat die jong losvoorspelers Vrydag hul slag moet wys.

“Dis ’n geleentheid vir jong spelers om met albei hande aan te gryp en hul man te staan,” sê hy.

Coetzee sê die Stormers se drie nederlae op ’n streep in Australasië – teen die Hurricanes, Blues en Reds – het nie onenigheid in hul kamp veroorsaak nie.

“Ons het alles agter ons gesit en fokus nou op die Rebels. Ons is nie vir mekaar vies nie en daar word nie negatief met mekaar gepraat nie. Ons het ons vergadering (ná die wedstryd teen die Reds) gehad, eerlik gepraat en vorentoe beweeg. Almal is opgewonde,” sê Coetzee.

Ons het ons vergadering (ná die wedstryd teen die Reds) gehad, eerlik gepraat en vorentoe beweeg. Almal is opgewonde.
Jaco Coetzee

Indien die Stormers se afrigter, Robbie Fleck, vir Coetzee en Augustus as onderskeidelik flank en agtsteman kies, sal dit interessant wees om te sien wie die ander lid van die lostrio gaan wees.

Kobus van Dyk het skaflik gevaar as die nr. 7-flank teen die Reds, maar kan dalk ook as ’n nr. 5-slot oorweeg word omdat die Stormers nie meer ’n spesialis vir daardie posisie beskikbaar het nie.

In daardie geval kan Cobus Wiese, wat gesukkel het as ’n nr. 4-slot teen die Reds, flank toe skuif en terselfdertyd vir die spesialis-slot Salmaan Moerat in die beginspan plek maak.

Meer oor:  Sikhumbuzo Notshe  |  Juarno Augustus  |  Jaco Coetzee  |  Kaapstad  |  Melbourne  |  Rugby  |  Stormers  |  Superrugby  |  Rebels  |  Toer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.