Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
SuperRugby
Crusaders bespreek plek in eindstryd

Die Crusaders het Saterdag hul plek vir ’n derde agtereenvolgende jaar in die eindstryd van die Superrugby-reeks bespreek.

Die Crusaders se George Bridge sit af op ’n lopie. Foto: Getty Images

Die verdedigende kampioen het op sy tuisveld die Hurricanes in die halfeind met 30-26 geklop.

Die wenspan was vinnig uit die blokke danksy die vleuel Sevu Reece se eerste drie en het tot kort voor rustyd gerieflik met 13-0 voorgeloop. Die Hurricanes se Ngani Laumape het egter kort voor die waterbreuk gaan druk om die Hurricanes in die wedloop te hou.

Maar die Hurricanes was in die eerste helfte vir hul eie ondergang verantwoordelik. Hulle het met skoppe probeer om in die Crusaders se helfte van die veld te kom, maar die taktiek het grootliks misluk omdat die skoppe nie opgevolg is nie.

Daarby was die Crusaders se vleuel George Bridge veilig onder die hoë bal en het dikwels goeie teenaanvalle van stapel gestuur.

In die tweede helfte was die Hurricanes ’n perd van ’n ander kleur met die bal in die hand. Voeg daarby die skitterende Beauden Barrett wat kookwaterspel op losskakel gelewer het, en jy weet hoekom die wedstryd ’n naelbytaffêre was.

Dit was Barrett wat met sy manier om verdedigers te trek voordat hy uitgee, tot die vleuel Ben Lam se drie gelei het en lewe in die wedstryd geblaas het.

Teen die einde het die Hurricanes verwoed probeer om ’n gaping in die Crusaders se verdediging te vind, maar kon net-net nie deurkom nie. Hul taktiek in die eerste helfte om doelloos te skop, het hulle straks die wedstryd gekos.

So goed soos wat die Crusaders was wanneer hulle die bal deur die hande laat gaan het, sal hulle allermins tevrede met hul vertoning wees. Daar was meer as een keer wat hulle nie hul balbesit in die losgemale kon beskerm nie.

Tog het die Crusaders gewys dat hulle oor die temperament beskik om koelkop in druksituasies te bly.

Die Crusaders kom eerskomende naweek op hul tuisveld in die eindstryd teen die Jaguares te staan. Die Argentyne het die Brumbies in die ander halfeind met 39-7 Vrydag in Buenos Aires geklop.

Puntemakers:

Crusaders 30 (13): Drieë: Sevu Reece (2), Richie Mo’unga. Doelskoppe: Mo’unga (3). Strafdoele: Mo’unga (3).

Hurricanes 26 (7): Drieë: Ngani Laumape (2), Ben Lam, TJ Perenara. Doelskoppe: Beauden Barrett (3).

Meer oor:  Christchurch  |  Crusaders  |  Superrugby  |  Hurricanes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.